BOGOTA, COLOMBIA.- ’n Vrou (37) is Maandag op die El Dorado-lughawe in Bogota in hegtenis geneem nadat 130 giftige harlekynpaddas in haar tas gevind is.
Volgens die polisie was die paddas in klein geseëlde houertjies en naby aan versmoring.
Die vrou het glo probeer om die paddas na Sao Paulo, Brasilië te smokkel. Volgens polisie-owerhede is die spesifieke spesie gewild onder versamelaars wat duisende dollars op internasionale markte daarvoor sal betaal. Een van die paddas kan glo vir 1 000 dollar verkoop word.
Harlekynpaddas is een van die giftigste amfibie-spesies ter wêreld. Hulle gif kan vir die voorpunt van ’n jagterspyl gebruik word en is sterk genoeg om klein diere dood te maak.
Owerhede het nie die vrou se storie, dat die paddas ’n geskenk van vriende was, geglo nie.
Bronne: BBC, WFLA, NBC 6



