Groblersdal: Pa en stiefseun bly in aanhouding

Deel hierdie storie / Share this story

GROBLERSDAL, LIMPOPO. – Die borgaansoek van Piet Groenewald en sy stiefseun, Stefan Greeff, is gister in die Groblersdal-landdroshof tot 7 Februarie uitgestel.

Hulle het op aanklagte van aanranding met die doel om ernstig te beseer, verskyn. Dit volg na ’n beweerde voorval waartydens hulle glo ’n veiligheidshond op ’n werknemer van Groenewald se sekuriteitsmaatskappy losgelaat het.

Volgens die beweerde slagoffer, Veneruru Kavari, is hy met ’n voorwerp oor die kop geslaan voordat die hond op hom losgelaat is. Groenewald se verklaring dui na bewering aan Kavari is slegs vyf dae nadat hy vir die sekurteitsmaatskappy begin werk het, oor “besopenheid” tydens werkstyd aangespreek. Hulle beweer Kavari was in besit van ’n piksteel en ’n panga toe die veiligheidshond losgebreek het. Groenewald het glo selfs vir Kavari na die tyd ‘n inspuiting teen klem-in-die-kaak gegee.

Polisieminister Bheki Cele en Ronald Lamola, minister van justisie en korrektiewe dienste, het die hofverrigtinge bygewoon.

’n Moontlike getuie vir die staat het na bewering dreigoproepe ontvang. Adv. Johan van Wyk het egter gesê Groenewald en Greeff was nie daarvan bewus nie.

Lede van die ANC en EFF het die “slagoffer” buite die hof ondersteun. Groenewald en Greeff bly in aanhouding.

Bronne: Sowetan Live, IOL, Middelburg Observer