MPUMALANGA. – Zanele Zwane (27) is verlede Donderdagoggend op Carolina doodgeskiet. Xolani Sidney Simelane (38) is Saterdag in hegtenis geneem en het Maandag vir die moord in die Carolina-landdroshof verskyn. Die saak is vir formele borgaansoek tot 5 Februarie uitgestel. Simelane bly in aanhouding.
Volgens kol. Donald Mdhluli was Zwane op die punt om werk toe te ry toe sy doodgeskiet is.
Mdhluli sê die polisie en nooddienste is na die toneel van die skietvoorval ontbied. Op die toneel het ‘n Toyota-bakkie steeds geluier. Zwane het bewegingloos met koeëlwonde in haar bolyf in die bestuurdersitplek gesit.
Sy is op die toneel dood verklaar.
Die ondersoek duur voort.
Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus.



