Rugby-afrigter van Middelburg deur trein getref

Deel hierdie storie / Share this story

MIDDELBURG, MPUMALANGA. – Reinhardt “Rey” van Niekerk is volgens sy ma die persoon wat Maandag in die vroeë oggendure naby die Rondebosch-plotte deur ’n Rovos Rail-trein op die treinspoor tussen Derwent-stasie en Middelburg getref is.

Volgens die treindrywer het die persoon dwars oor die treinspoor gelê en nie op die aankomende trein se waarskuwingsfluit gereageer nie. Die Middelburg Observer berig die trein se bosbreker het hom weggeslinger en hy het vermoedelik as gevolg van die impak gesterf.

Reinhardt se ma, me. Clara van Niekerk, sê haar seun het Sondagaand omstreeks 23:00 besluit om ’n draai langs die spoorlyn te gaan stap om sy “kop skoon te kry”. Hy het egter nie weer huis toe gegaan nie. Volgens haar het hy die afgelope ruk aan erge depressie gely.

Daar word verneem Reinhardt het ’n rooi hemp met ’n Springbok-embleem op aangehad toe hy uit die huis is. Na bewering het die oorledene dieselfde klere aangehad.

’n Formele uitkenning sal vandag deur Reinhardt se ma gedoen word. Hy was onder meer die stigter van RugbyTool wat rugbyklinieke aangebied het en hy het by skole soos Hoërskool Steelcrest afgerig.

Die trein was van Zimbabwe na Gauteng onderweg en staan tans by die Middelburg-stasie.  

Bronne: Middelburg Observer, Facebook