MPUMALANGA. – ‘n Vermeende vragmotorkaper (45) het Donderdag ‘n vragmotor gerol toe hy van die Standerton-polisie en Kasselman-sekuriteit gevlug het. Die beweerde verdagte is daarna in hegtenis geneem.
Kol. Donald Mdhluli sê sedert die begin van die jaar is reeds meer as 20 voertuie in Mpumalanga teruggekry.
Na bewering het ‘n vragmotorbestuurder onderweg met ‘n vrag soja op pad na Standerton ‘n sedan met drie manlike insittendes voor hom opgemerk. Die voertuig het glo stadig gery, wat die vragmotorbestuurder forseer het om ook stadiger te ry. Twee gewapende gewapende verdagtes het na wat beweer word uit die sedan geklim, die vragmotorbestuurder oorweldig, sy hande en voete vasgebind en glo ook sy kop bedek. Hy is glo daarna in die agterkant van die vragmotor ingedwing. Met die ontvangs van ‘n oproep is die vragmotorbestuurder glo forseer om te sê alles is in orde. Nadat hulle ongeveer 18 kilometer verder gery het, is die bestuurder glo van sy selfoon beroof en in bosse agtergelaat.
Die vragmotoreienaars, wat onraad gemerk het, het die owerhede in kennis gestel. Die vragmotor met ‘n persoon agter die stuurwiel is omstreeks 18:30 op Standerton opgemerk.
Tydens pogings om die vragmotor tot stilstand te bring, het dit teen die agterkant van ‘n sekuriteitsvoertuig gebots en in die proses omgeslaan.
Die beweerde verdagte, met ‘n speelgoedpistool in sy besit, is op klagtes van besit van ‘n vermoedelike gekaapte vragmotor in hegtenis geneem en die moontlikheid bestaan dat meer klagtes tydens die ondersoek bygevoeg kan word.
Die vragmotorbestuurder, wat langs die pad agtergelaat is, het gestap tot hy hulp gekry en kontak met owerhede gemaak het.
Voorlopige ondersoek dui aan die vragmotor is op Vrede in die Vrystaat gekaap, voordat dit op Standerton teruggevind is.
Die polisie is op die spoor van nog beweerde verdagtes in die saak. Enigiemand met inligting word versoek om met die polisie in verbinding te kom.
Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel



