Dana Snyman, joernalis en skrywer, het Dinsdag op sy Facebook-blad ’n gevoelvolle beskrywing van die psigiese siekte depressie gegee.
Woensdagaand het meer as 2 000 mense reeds op sy plasing gereageer.
Navorsing aan die Universiteit van die Witwatersrand het in 2022 aangedui dat Suid-Afrikaners meer geneig tot depressie en angs is as meeste inwoners van ander lande.
Dana Snyman se Facebook-plasing:
AS DIE DONKER JOU KOM HAAL
“Jy word wakker en wil nie opstaan nie. Party nagte slaap jy byna glad nie. Ander nagte slaap jy te lank en te diep. Jy wil die hele dag lank, die hele week lank, die res van jou lewe lȇ en staar na die uitgebrande kers op jou bedkassie. Jy voel knaend tam. Dit is ’n swaar, donker tamheid waarvoor slaap en rus en vitamien B nie help nie.
Huiwerig trek jy die gordyne oop. Die son skyn te helder buite. Die lug is blou, nie ’n wolk in sig nie. Nog ’n pragtige dag in Afrika wat jy nie wil hȇ nie. Om te lewe is onnatuurlik. Om te lewe is seer en jy weet nie waar die pyn vandaan kom nie. Jy kan nie besluit of jy honger is nie. In die yskas is groente en vrugte wat jy gekoop het, maar jy is lus vir NikNaks en sjokolade. Die 5 liter-boks Robertson-rooi is leeg, al is die verligting wat wyn bring, slegs twee glase lank.
Jy skakel die TV aan. BBC. CNN. Al Jazeera. Nog vlugtelinge uit Sirië. Nog ’n reënwoud wat brand. Die 500 rykste rykste mense in die wȇreld se inkomste het verlede jaar met 25 persent gegroei. God het die aarde verlaat, en ons is nou in die hande van biljoenȇrs en die pastore wat op kanaal 340 tot op kanaal 343 opereer. Lawaaierige mishandelaars van woorde, wat nooit sȇ Jesus was ’n man van trane nie. Jesus het gehuil. Die kortste vers in die Bybel: Johannes 11 vers 35.
Al kanaal op die TV wat vir jou sin maak, is die een waarop dag na dag gewys word hoe leeus en ander roofdiere jag op ander diere maak en hulle vang. Jy, nes daardie steenbokkie in die krokodil se kake, is self in die greep van ’n wilde iets – iets wat jou vreugde steel en jou vermoë ondermyn om liefde te gee en liefde te ontvang. Jy kan nie glo iemand kan lief vir jou wees nie. Al sȇ daardie een oor en oor vir jou: Ek is lief vir jou, ek is lief vir jou, wil jy dit nie glo nie en probeer jy om die liefde te saboteer. Jy glo jy verdien al die ongelukkigheid wat jou toekom.
Niks gee jou meer plesier nie. Jy kyk na die boeke op jou rak, en dink: Vergeefs, alles vergeefs. Jy vermy al hoe meer kontak met ander mense. Sien jy iemand wat jy ken in die winkel, koes jy agter ’n pilaar of ’n rak in. Jy kyk na die mense rondom jou en glo hulle is net so alleen en ongelukkig soos jy, hulle weet dit net nie. Jy wil huil oor al die weerlose mense, en mishandelde diere, en bome wat afgekap word, maar het iewers tussen jou brein en jou hart het jou trane vermis geraak. Jy voel leeg.
Jy skakel die rekenaar op jou lessenaar aan. Nog nuwe e-posse in jou inboks wat jy nie kans sien om te beantwoord nie. Jy kyk na die toekennings wat jy al ontvang het wat geraam teen jou muur hang, en dit beteken niks vir jou nie. Dit voel of jy iets verloor het, iets baie belangrik, wat jou lewe weer betekenis sal kan gee as jy dit net weer kan vind.
Jy hou nie van hoe jy lyk nie, maar kyk soms in die spieël, asof jy wil seker maak jy bestaan nog. Jy wonder of jou ma jou regtig wou hȇ. Jy is spyt jy is gebore.
Dit is hoe die lewe soms voel vir iemand wat aan erge depressie ly.”
Lees meer oor die studie wat in 2022 aan die Universiteit van die Witwatersrand gedoen is.
Bronne: Dana Snyman Facebook-blad, Die Universiteit van die Witwatersrand webtuiste



