Rasta Kenosi bly in aanhouding

Deel hierdie storie / Share this story

NOORDWES. – Rasta Kenosi (37) het gister op ’n aanklag van kwaadwillige saakbeskadiging in die Ganyesa-landdroshof verskyn. Sy borgaansoek was onsuksesvol.

Kenosi se verdegigingspan het aangevoer dat hy “werklik siek” is en borg toegestaan moet word omdat hy drie kinders het wat hy versorg.

Die aanklag spruit uit ’n insident wat na bewering op Boshoek plaasgevind het, waar ’n sekuriteitsvoertuig van agter gestamp en met klippe bestook is. Kenosi het ook na bewering saam met ander ’n sekuriteitsvoertuig se voorruit uitgeslaan.

Petrus Sitho, sosiale en plaasmoordaktivis wat by die hof teenwoordig was, het die uitspraak verwelkom. Hy sê dat hy sal aanhou om vir bewusmaking van misdaad in die landbousektor te veg.

Volgens Agri Noordwes, strek die misdaadsituasie in die Ganyesa-distrik baie verder terug as 2022. “Telkemale is daar met groot fanfare vergaderings gehou … , maar daar was geen blywende of noemenswaardige resultate met ondersoekwerk behaal nie.” Hulle het weereens klem daarop gelê dat die misdaadstryd nie ’n individuele stryd moet wees nie, maar eerder ’n gesamentlike gemeenskapspoging. “Want elke omgewing het sy ‘Rasta’.”

Rasta Kenosi verskyn weer op Vrydag 26 Januarie 2024 in die hof.

Bronne: Petrus Sitho, Agri Noordwes