Vier ontvoerde mans vrygelaat

Deel hierdie storie / Share this story

MPUMALANGA. – Vier mans is veilig gevind nadat hulle na bewering Maandagaand rondom 22:30 gekaap en ontvoer is toe hulle van Standerton na Trichardt onderweg was.

Jameel Salley, Yusuf Saber, Ahmed Dhorat en Ziyaad Salley is die seuns van vier prominente sakemanne van Trichardt. Hulle was op pad huis toe nadat hulle padel op Standerton gespeel het.

Kasselman Sekuriteitsdienste het ’n foto gedeel van die Volkswagen Tiguan waarmee die slagoffers gery het.

Hulle is Dinsdag suid van Johannesburg aangetref nadat hulle deur die ontvoerders vrygelaat is. Na bewering is daar geld uit hulle bankrekeninge onttrek.

Yusuf Abramjee, joernalis en sosiale aktivis, het op sy Twitter-profiel gesê hierdie tipe “kitsontvoerings” is aan die toeneem.

Niemand is nog in hegtenis geneem nie.

Bronne: The Citizen, Twitter