Die Wildeklawer-plaas naby Barkly-Wes in die Noord-Kaap bevind hom in die greep van hartseer nadat drie individue hul lewens tragies verloor het toe weerlig hulle getref het. Die hegte boeregemeenskap worstel met die skok van hierdie natuurramp.
Cora de Kock, mede-eienaar van Wildeklawer-plaas, sê in 37 jaar was daar nog nie so ’n voorval op die plaas nie.
’n Groot span werknemers was Woensdag omstreeks 16:30 in die lande. “Die somermaande is baie besig met ongeveer 2 000 mense wat daagliks werk. Ons voorman het Woensdag die verandering in weer opgemerk met wat lyk soos reën wat naderkom,” sê De Kock.
Sam Stevens, voorman by Wildeklawer, het almal opdrag gegee om die lande te verlaat. Die weerdiens het nie hierdie weer voorspel nie en wat daarna gebeur het, het in ’n kwessie van minute plaasgevind.
“Wanneer reën naderkom, ontplooi die plaas busse as ’n standaardpraktyk. Hierdie busse bied skuiling aan werknemers totdat die weer bedaar en verseker dat niemand blootgestel word aan die gevare van werk in reën of weerlig nie. Die werknemers was reeds op pad na die pakhuis. Die weerlig het geslaan soos ons met die bus nadergekom het. Dit was nie eens so hard nie,” onthou Stevens. “Dit het nog nie begin reën nie, maar direk nadat die eerste weerlig geslaan het, het ’n tweede een sowat 110 m van die eerste een af getref. Nege mense is op die grond geslaan. Onneile Andrew Koji (51), van Taung en Moatlhodi Godfrey Mokoena (26), van Barkly-Wes, is oorlede. Eers daarna het dit begin reën.”
Stevens sê almal was baie bang. “Ons het rondgehardloop om almal te help. Ons het Rocket HEMS, die lugambulans, gebel om een beseerde persoon na die hospitaal te vervoer. Die ander ses persone is per ambulans na Mediclinic Gariep geneem.” Al sewe mense is intussen uit die hospitaal ontslaan.
Die natuur het egter Vrydag weer toegeslaan op ’n ander plaas, Romance, net oorkant Riverton.
De Kock sê Lemogang Anthony Selebogo (19) is in die veld getref en is oorlede. “My skoonseun, wat op die plaas werk, was ook naby in die lande toe die weerlig geslaan het. Die werknemers was reeds van die lande af en in die busse. Weereens het die reën eers begin nadat die weerlig geslaan het. Kan jy jou die trauma indink as so iets reg langs jou gebeur? Die geaffekteerde werknemers ontvang sedert Vrydag berading. Ons harte gaan uit na die gesinne wat geraak is en ons treur oor die lewens wat verlore is. Dit is ’n ongelooflike hartseer tyd.”
Stevens het gesê almal sal Saterdag die begrafnisse van Koji en Mokoena bywoon, met ’n datum wat nog vasgestel moet word vir Selebogo se begrafnis. Wildeklawer het onderneem om vir al drie begrafnisse te betaal. “Ons is baie hartseer oor wat gebeur het en ondersteun die families in hierdie tyd van verlies.”



