GAUTENG. – Twee beweerde rowers is Maandagaand raakgeskiet toe hulle by ‘n inkopiesentrum in Saxbystraat in Eldoraigne, Centurion, op die vlug geslaan het.
Volgens CERT-SA is beamptes omstreeks 20:21 na ‘n skietvoorval ontbied.
Die twee beweerde rowers is met skietwonde aangetref. Hulle is in ‘n stabiele toestand na ‘n nabygeleë hospitaal vervoer waar hulle onder polisiebewaking is.
Die omstandighede van die voorval is tans onbekend, maar word deur die polisie ondersoek.
AO Johan van Dyk sê ‘n klaer en sy pa het gisteraand omstreeks 20:29 na die Saxby Corner-kompleks gegaan waar hy glo ‘n koper vir ‘n iPhone wat hy op sosiale media vir R1 500 geadverteer het, sou ontmoet.
Van Dyk sê sy pa het hom vergesel omdat hy nie gemaklik was om ‘n vreemdeling op sy eie te ontmoet nie.
Die “koper” is ontmoet en die selfoon is na bewering oorhandig, waarna ‘n deurskynende sak met kontant aan die klaer oorhandig is. Die klaer se pa het opgemerk die kontant is vals. Na bewering het die verdagte “koper” wat besef het hy is uitgevang met die geld en selfoon na ‘n geparkeerde voertuig gehardloop.
Die klaer se pa en ‘n onbekende klant het in die rigting van die verdagte “koper” geskiet en hy en nog ‘n insittende van die voertuig is raakgeskiet.
Van Dyk sê drie verdagtes is vir beweerde poging tot roof en besit van vervalste kontant in hegtenis geneem.
CERT-SA (Community Emergency Response Team) het die volgende rolspelers vir ondrsteuning op die toneel bedank: Wierdabrug-SAPS, Tracker South Africa , MonitorNet, Copwatch , Wierdabrug GPF Sektor 1- en Sektor 3-lede, Emer-G-Med (Pty) Ltd , ER24 EMS (Pty) Ltd. , Gauteng Emergency Medical Services en alle ander dienste teenwoordig.
Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel



