‘Gesteelde besittings’ by OR Tambo in kollig

Deel hierdie storie / Share this story

GAUTENG. – Die lughawemaatskappy van Suid-Afrika (Acsa) het bevestig dat hulle bewus is van ’n beweerde insident by OR Tambo- internasionale lughawe waar daar glo met ’n passasier se bagasie gepeuter en besittings gesteel is.

Volgens Jabulani Khambule, Acsa se algemene distriksbestuurder van OR Tambo, werk Acsa saam met die lugredery en die bagasiehanteringsmaatskappy om die beweerde insident deeglik te ondersoek en die vermeende skuldiges aan die pen te laat ry.

Acsa het dit duidelik gemaak dat hulle nie vir die bagasiehantering verantwoordelik is nie, aangesien dit deur lugrederye self hanteer word.

Khambule het ook genoem dat ‘n video oor bagasie-plundering by OR Tambo onlangs op sosiale media versprei is. Volgens hom het die betrokke insident al vier jaar gelede plaasgevind. “Die werknemer is destyds na die insident aangekla en afgedank,” het hy bevestig.

Verder het Acsa ’n lugvaartsekuriteitsmodel ontplooi wat vertikaal en horisontaal met verskeie wetstoepassingsowerhede geïntegreer is om misdadigheid by lughawens uit te roei.

Passasiers word aangemoedig om enige insidente van peutering met bagasie en diefstal by die onderskeie lugrederye aan te meld.

Bronne: George Herald, Germiston City News