Ses vas na ondersoek na ‘veevergiftiging’ in Noordwes

Deel hierdie storie / Share this story

NOORDWES. – Ses verdagtes is Donderdag in Morokweng en Ganyesa in hegtenis geneem vir diefstal, die onwettige besit van ammunisie asook die onwettige besit van vuurwapens. Die verdagtes word almal met ’n saak van kwaadwillige saakbeskadiging verbind waarin Keobakile ‘Rasta’ Kenosi die beskuldige is.

Dit volg na die samestelling van ’n ondersoekspan deur die provinsiale kommissaris wat die beweerde vergiftiging van 44 beeste in die Bray-omgewing en die oënskynlike bestaan van ’n veediefstalsindikaat in die Dr. Ruth Segomotsi Mompati-distrik moes ondersoek.

Ockert Goosen het in Novemver 2023, 44 beeste aan veevergiftiging verloor op grond wat hy in die Bray-omgewing gehuur het. Dit het gebeur na ‘n veediefstalinsident waarby Rasta Kenosi na bewering betrokke was. In Desember 2023 is daar van Adolph Reyeneke se beeste naby Tosca vergiftig. Inwoners het geglo dit is deur Kenosi uit weerwraak gedoen omdat hy op 14 Desember vir onverwante aanklagte van poging tot moord en kaadwillige saakbeskadiging in hegtenis geneem is.

Die beweerde misdade waarvoor die verdagtes Vrydag in hegtenis geneem is, is tussen Augustus 2022 en Januarie 2024 gepleeg. Vier van die ses verdagtes staan op ’n aanklag van diefstal tereg nadat hulle na bewering ’n Jojo-watertenk ter waarde van R5 500 in Augustus 2023 gesteel het.

Volgens die SAPD staan die ander twee verdagtes op afsonderlike aanklagte van die onwettige besit van ammunisie en die onwettige besit van vuurwapens tereg.

Tydens die inhegtenisnemings was die ondersoekspan op soek na die verdagtes in verband met sake van kwaadwillige saakbeskadiging wat na bewering in Augustus 2022 op Boshoek gepleeg is. Een verdagte staan op ’n soortgelyk aanklagte tereg wat glo in Oktober 2023 gepleeg is.

Berigte dui daarop dat die verdagtes glo ’n voertuig van ‘n privaat sekuriteitsmaatskappy doelbewus van agter gestamp en met klippe bestook het.

Beslag is gelê op ’n Toyota Hilux-dubbelkajuitbakkie, ammunisie en vuurwapens gelê.

Die beskuldiges; Lobelo Setlhabetsi (48), Moses Monchusi (47), Karabo Ditlamelo (31), Tshepiso Masite (32) Sarel de Lange (21) en White Basime (42) het Vrydag in die Ganyesa-landdroshof verskyn. Hulle bly tot môre, 9 Januarie 2024 in aanhouding. Kenosi verskyn ook weer Dinsdag in die hof.

Bronne: SAPD, Twitter