Paneel van vliegtuig val in vlug af

Deel hierdie storie / Share this story

VSA. – Alaska Airlines moes Vrydag ’n noodlanding in Portland, Oregon, uitvoer nadat ’n buitepaneel van ’n Boeing 737 Max 9-straler tydens ’n vlug afgeval het.

’n Totaal van 177 passasiers en bemanningslede was aan boord.

Volgens Evan Smith, een van die passasiers, is ’n harde slag aan die linkeragterkant van die vliegtuig gehoor. ’n Suigklank het gevolg, waarna die suurstofmaskers ontplooi het.

Hy beweer ’n seun wat naby die agterkant gesit het se hemp is van sy lyf afgeruk. Sy ma het hom glo vasgehou sodat hy nie uit die vliegtuig val nie.

Ben Minicucci, hoof van Alaska Airlines, het gesê 65 vliegtuie word op die grond gehou en sal slegs weer vlieg nadat deeglike inspeksies gedoen is.

Alaska Airlines sê ’n voorlopige ondersoek kon geen foute vind wat kommer wek nie.

Bronne: BBC, SkyNews