DURBAN, KZN. – ’n Man en ’n drie maande oue baba is Vrydagoggend dood toe twee voertuie op die N2-Noord bo die Edwin Swales-brug in Durban gebots het.
ALS Paramedici is om 9:45 na die toneel ontbied. Hulle het twee voertuie wat reg van voor teen mekaar gebots het, aangetref. Een voertuig het op sy kant tot stilstand gekom.
’n Man en baba was in die eerste voertuig vasgekeer en moes uit die wrak gesny word. Albei het ernstige beserings opgedoen en is deur paramedici op die toneel dood verklaar.
Twee insittendes van die tweede voertuig is ook ernstig beseer. Hulle is op die toneel gestabiliseer voordat hulle na ’n nabygeleë hospitaal geneem is.
Ooggetuies beweer dat die eerste voertuig in ’n suidelike rigting op pad was toe dit na die ander baan beweeg en teen die tweede voertuig gebots het. Die SAPD en Metro-polisie ondersoek nog die oorsaak van die ongeluk.
Bronne: ALS Paramedics, Arrive Alive



