Speurder van Verulam-polisie beroof

Deel hierdie storie / Share this story

KWAZULU-NATAL. – ‘n Polisiespeurder verbonde aan die Verulam-speurtak is na bewering Woensdag aangeval, aangerand en van sy Nokia-selfoon beroof.

Volgens Reaction Unit South Africa het hulle oproepe vir hulp met ‘n roof ontvang. Met aankoms op die toneel is die polisiebeampte met sigbare beserings aan sy gesig en liggaam aangetref.

Na bewering het die polisiespeurder in ‘n arkade in Wickstraat gestap toe hy glo deur twee verdagte mans aangeval is. Die polisielid is glo gewurg en aangerand, waarna die verdagtes gevlug het.

Hy het twee waarskuwingskote geskiet terwyl hy die verdagtes te voet gejaag het. Die jaagtog het as gevolg van die polisieman se beserings by Gandhipark in die area van Verulam-landdroshof geeïndig.

‘n Verbyganger se selfoon is deur die polisielid gebruik om Reaction Unit South Africa te bel. Die verdagtes is sonder sukses gesoek.

Kol. Robert Netshiunda het die voorval bevestig en gesê die voorval word as ernstig beskou en ‘n ondersoek is aan die gang.

Netshiunda sê ‘n saak van roof word ondersoek nadat ‘n man na bewering deur onbekende verdagtes wat met sy selfoon gevlug het, beroof is. Hy is glo waar hy geloop het van agter gegryp en gewurg, terwyl ‘n ander verdagte hom aangerand het.

Enige inligting van die publiek wat kan help om die verdagtes op te spoor, word deur die polisie waardeer.

Bron: SAPD en Reaction Unit south Africa.

Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel