MPUMALANGA. – Twee vroue van Zimbabwe, Grace Gumbo (26) en Mercy Tsoko (28) het Woensdag vir ‘n tweede keer in die Kriel-landdroshof verskyn. Die aanklagte teen hulle is dié van beweerde kinder-ontvoering en oortreding van die immigrasiewet. ‘n Baba wat glo op 28 Desember uit die sorg van haar ma ontvoer is, is saam met nog ‘n baba en ‘n kleuter in die vroue se besit gevind.
Volgens. Brig. Selvy Mohlala het die vroue reeds op 2 Januarie in die hof verskyn, waarna die saak tot 3 Januarie uitgestel was. Die saak het voorgekom en is nou tot 10 Januarie uitgestel wanneer ‘n formele borgaansoek aangehoor sal word. Intussen bly die twee verdagtes in aanhouding.
Na bewering is die babameisie (4 maande) van Thubelihle, waaroor FiND iT berig het, in Desember onder valse voorwendsels uit die ma se sorg weggeneem. Sy is nooit teruggegee nie en ‘n saak van ontvoering is by die polisie aanhangig gemaak.
Die ander babameisie is glo gedurende September 2023 in Springs en die kleuterseun in April 2023 op Marble Hall ontvoer.
Die gemeenskap van Ogies het inligting aan Kriel-polisiestasie verskaf van twee vroue wat na bewering oppassers is en twee babas en ‘n kleuter by hulle het. Kriel-polisielede het ondersoek ingestel en die kinders by die twee verdagtes in ‘n shack gevind.
Mohlala sê soos wat die ondersoek vorder, bestaan ‘n moontlikheid dat meer aanklagte teen die beskuldigdes bygevoeg kan word.
Die polisie vra die gemeenskap om te help om die ander twee kinders van vermoedelik Marble Hall en Springs se ouers op te spoor.
Enigiemand met inligting kan die Kriel-polisie by 082 789 0723 bel.
Bron: SAPD
Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel



