David Rees, bekende SA-akteur, het voor Kersfees gedeel wat hy alles deur 2023 moes deurmaak, met ‘n ernstige siekbed en toe nog boonop sy werk wat hy kwyt is na 7de Laan gestaak is.
Rees sê voorts sy huwelik is aan skerwe, sy bors was twee keer oopgemaak vir onder meer ‘n dubbele hartomleidingsoperasie en hy het boonop longontsteking en septisemie opgedoen. Asof dit nie al was nie, is hy met ‘n bloeiende maagsweer in die hospitaal opgeneem.
Na alles wat hy deurgemaak het en steeds kommer ervaar oor familie in Israel , het hy sy dankbaarheid teenoor die Here, vriende en familie uitgespreek.
Rees het in Augustus 2023 ‘n hartaanval gehad, wat ‘n dubbele hartomleiding tot gevolg gehad het.
Lees Rees se volledige sosialemediaplasing hier onder:
Hierdie jaar is ek my werk kwyt, my huwelik is in skerwe, twee keer is my bors oopgesaag, my hart uitgehaal vir dubbele hartomleiding, longinfeksie, ‘septicaemia’, nou net weer ontslaan na 5 dae ICU vir bloeiende maasgsweer, ons leef in vrees vir die lewens van ons familie in ‘n oorlogsone in Israel, om nie eers te praat van wat met ons land gebeur nie. Ag die jaar was vol baie seer. Baie pyn. Maar my hart is vol. Vol vreugde en dankbaareid. Sulke goeie vriende wonderlike familie en een van die mooiste lande op aarde. En ek weet nie of ek kan leef sonder ons mense nie. Afrikaners. Afrikaanses.
Dankie dat U my lewe gespaar het Vader. Dankie vir nog ‘n kans. En dankie dat U my oë oopgemaak het al was dit baie seer. Vorentoe sal ek werk om mense se oë te probeer oopkry . Ek sal my bes gee. Want sonder enige twyfel is hierdie lewe die kosbaarste geskenk wat gekoester en voluit beleef moet word. Dankie Vader. So baie baie dankie.
Bron: David Rees Facebook-blad
Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel



