MPUMALANGA. – Vier verdagtes van ‘n beweerde gewapende roof by ‘n supermark op Sabie het Saterdagmiddag hulle rieme styf geloop toe polisielede skielik op hulle hakke was. Na bewering het die polisielede tydens ‘n oor-en-weer-skietery een verdagte doodgeskiet, een (24) gewond en in hegtenis geneem, terwyl twee steeds gesoek word.
Brig. Selvy Mohlala sê die groep verdagtes het die supermark bestorm, slagoffers met vuurwapens aangehou en met ‘n onbekende bedrag geld van die toneel gevlug.
Polisielede was volgens Mohlala vinnig na die toneel onderweg toe hulle die vlugtende verdagtes opmerk en hulle te voet agternagesit het. Die verdagtes het glo op die polisielede geskiet, waarop die lede teruggeskiet het.
‘n 9 mm-pistool en 11 rondtes ammunisie is in die besit van die oorledene gevind. Die gewonde verdagte wat in hegtenis geneem is, is onder bewaking in ‘n hospitaal.
Sake van besigheidsroof, poging tot moord, besit van ‘n ongelisensieerde vuurwapen en ammunisie en ‘n geregtelike doodsondersoek is geregistreer.
Die skietvoorval word deur Opod (Onafhanklike Polisie-ondersoekdirektoraat) ondersoek.
Enigiemand met inligting van die vlugtende verdagtes kan die polisie onverwyld by 08600 1011 bel.
“We appreciate the caliber of men and women in Blue who are eager to serve the community by ensuring their safety as well as their properties, ” sê die provinsiale kommissaris, lt.genl. Semakaleng Daphney Manamela.
Bron: SAPD
Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel



