GAUTENG. – Die 21-jarige verdagte in die moord op Kirsten Kluyts (34) het gister weer vir ‘n borgaansoek in die Alexandra-landdroshof verskyn. Sy borg is weereens deur die hof geweier.
Kluyts, wat ‘n onderwyseres aan Hoërskool Deltapark was, se liggaam is in George Lea-park gevind. Sy was 14 weke met ‘n babaseun swanger.
Borg is vir die beskuldigde geweier – die hof het aangevoer hy is ‘n gevaar vir die samelewing, maar veral vir vroue.
Die beskuldigde is van voorneme om teen die besluit te apelleer. Die saak is tot 19 Januarie 2024 uitgestel.
FiND iT het voorheen soos volg berig:
GAUTENG. – Kirsten Kluyts (34), ‘n onderwyseres van Deltapark in Johannesburg, se lewelose liggaam is op 29 Oktober deur ‘n verbyganger aan die kant van ‘n drafpaadjie in die George Lea-park in Parkmore gevind. ‘n 21-jarige man, wat van haar moord beskuldig word, is op 26 November in hegtenis geneem.
Hy het gister vir borgaansoek in die Alexandra-landdroshof verskyn en sal steeds Kersfees in die tronk deurbring.
Kluyts was ten tyde van haar dood 14 weke swanger met ‘n babaseun.
‘n Nadoodse ondersoekverslag is in die hof voorgelees wat aandui sy is binne die bestek van agt minute vermoor. Die oorsaak van haar dood word beskryf as vanweë ‘n hou met ‘n stomp voorwerp oor die kop, verwurging, versmoring asook drukking op die nek.
Tydens die hofverrigtinge het die polisie bewys die beskuldigde was ten tyde van die moord op die toneel. Foto’s is gewys van hoe hy, geklee in haar T-hemp, van die toneel vlug. Hy het verder erken hy het haar hemp, broek en drafskoene uitgetrek en haar nakend gelos terwyl hy met die klere vort is. Na bewering het hy haar klere later in ‘n drein gegooi.
Bronne: SABC News, Citizen, Times Live
Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel



