NOORDWES. – ’n Verdagte (43) het Donderdag in die Rustenburg-landdroshof in verband met die beweerde moord op sy meisie verskyn.
Hy is Dinsdag in hegtenis geneem na die liggaam van sy meisie (31), ’n verkeersbeampte, gevind is. Die slagoffer is aanvanklik as vermis aangemeld. Haar liggaam is Dinsdagoggend in die Arnoldistad-area in Rustenburg deur ’n lid van die K9-eenheid tydens ’n patrollie gevind.
Volgens verslae is die slagoffer Maandagaand vir die laaste keer saam met die verdagte gesien toe sy haar gehuurde kamer verlaat het. Haar toesighouer het haar as vermis aangemeld nadat sy nie vir diens aangemeld het nie, nie by die huis was nie en ook nie haar selfoon geantwoord het nie.
Die verdagte is glo in hegtenis geneem terwyl hy besig was om die slagoffer as vermis aan te meld.
Bronne: SAPD, Twitter



