Stappers in vier voorvalle op roetes gehelp

Deel hierdie storie / Share this story

KAAPSTAD. – Stappers op roetes op en om Tafelberg is gedurende die naweek in vier voorvalle met hulp deur die WSAR bygestaan.

David Nel, die woordvoerder van die WSAR (Wilderness Search and Rescue), sê met die warm weer is daar ‘n toename in natuurentoesiaste. Hulle word aangeraai om vroeg te begin stap en ook om as voorsorgmaatreël dubbele hoeveelhede water saam met hulle te dra. Stappers moet verder volgens hom ook reg aangetrek wees en die belangrikste is om die noodnommer 021 937 0300, byderhand te hê.

Vrydagoggend het ‘n bejaarde stapper (72) sy enkel in Nuwelandbos beseer. ‘n Reddingspan het tot naby die beseerde gery en toe verder gestap. Nadat hy veilig terug na die parkeerarea vervoer is, het ‘n ambulans hom na ‘n hospitaal vervoer.

Tydens die tweede voorval Vrydagmiddag het ‘n pa (62), wat saam met sy seun was, siek begin voel en hulle is van die Yellowstone Gully op Tafelberg gevlieg. Die seun het sy pa hospitaal toe geneem.

In die derde voorval is ‘n 25-jarige stapper wat geval het teen Constantianek afgehelp. Sy is met ‘n ambulans na ‘n hospitaal geneem.

In die vierde voorval het ‘n gesin Vrydagmiddag in mis verdwaal en vir hulp gebel, waarna hulle na die boonste kabelkarstasie geneem is en met ‘n kabelkar veilig na onder vervoer is.

Nel wens al die beseerdes ‘n spoedige herstel toe.

Bron: WSAR

Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel