VF Plus begin petisie ná Mosselbaai-onderwyser borg kry

Deel hierdie storie / Share this story

TUINROETE. – Die omstrede Mosselbaai-onderwyser (43) van Laerskool Park wat op 19 seksueel-verwante klagtes waarby leerlinge betrokke is, tereg staan, is op borg van R15 000 vrygelaat.

Adv. Lennit Max, provinsiale woordvoerder vir die VF Plus in die Wes-Kaap, sê met die toelating van borg is vroue en kinders van Suid-Afrika in die steek gelaat.

Dit volg boonop volgens Max net nadat die 16 Dae van Aktivisme vir Geen Geweld teen Vroue en Kinders tot ‘n einde gekom het. Hy sê voorts die fokus moenie net op 16 dae wees nie, maar op elke dag.

Die VF Plus het ‘n petisie begin om die staatsaanklaer van die saak te versoek om teen die borgtogtoelating te appeleer.

Om die slagoffers se identiteit te beskerm, word die onderwyser se naam nie genoem nie.

FiND iT het op 5 Oktober soos volg berig:

TUINROETE. – ‘n Mosselbaai-onderwyser (43) het gister formeel in die Mosselbaai-hof vir borg aansoek gedoen. Hy word van 19 seksueel-verwante klagtes met leerlinge in sy klas as sy slagoffers, beskuldig. Sy saak is tot 19 Oktober uitgestel en hy bly in aanhouding.

Eric Ntabaxalila, woordvoerder vir die NVG in die Wes-Kaap, sê die beweerde klagtes sluit seksuele voorbereiding van kinders, seksuele aanranding, verkragting en die blootstelling van kinders aan pornografie, sowel as die gebruik van ‘n kind om kinderpornografie te bekom, in.

Die gr. 7-onderwyser is van ‘n plaaslike laerskool en is op 20 September in hegtenis geneem, waarna hy vir die eerste keer op 22 September in die hof verskyn het.

“The State intends to oppose his Schedule 6 bail application where he is expected to show the court that it is in the interest of justice for him to be released on.”

Aangesien hy nog nie gepleit het nie, kan sy naam nie bekend gemaak word nie.

Lees die VF Plus se volledige verklaring hier onder:

Met vanjaar se fokus van sestien dae op geslagsgebaseerde geweld – vanaf 25 November tot 10 Desember, het die regstelsel van Suid Afrika in Mosselbaai die land se vroue en kinders weer in die steek gelaat.

ʼn Onderwyser van Mosselbaai wat in hegtenis geneem is in verband met negentien aanklagte van verkragting, seksuele aanranding en seksuele voorbereiding van minderjariges, is gister vrygelaat op borgtog van R15 000.

Die beskuldigde het in die hof aangevoer dat hy nie ʼn selfdoodrisiko is nie aangesien dit volgens hom ʼn “sonde” is.

Dit dui ooglopend op die persoon se gebrek aan onderskeiding tussen wat sonde is aangesien dit ook verkeerd is om seksuele dade met minderjariges te pleeg.

Die VF Plus is van mening dat daar elke dag van die jaar gefokus moet word op misdaad teen vroue en kinders, nie net sestien dae nie. ʼn Geringe borgtogbedrag soos hierdie stuur nie ʼn kragdadige sein na die gemeenskap dat geweld teen vroue en kinders ʼn euwel is wat uitgeroei moet word nie.

Vermeende oortreders sal beswaarlik afgeskrik word wanneer straf of borgtogvoorwaardes niks meer as ʼn raps oor die vingers is nie.

Luidens ʼn artikel van MedScape (Child Rape in South Africa; 12 Desember 2023) neem verkragting, en veral kinderverkragting, teen skokkende koerse in Suid-Afrika toe.

Die artikel noem navorsing van die Instituut vir Rasseverhoudinge (IR) wat bevind dat meer as 52 000 verkragtings in 2000 aangemeld is, en dat 40% van die slagoffers onder die ouderdom van 18 was.

Ook dat die Universiteit van Suid-Afrika meen die werklike syfer is moontlik nader aan 1 miljoen per jaar. Navorsing dui daarop dat net sowat een uit nege voorvalle weens verskeie redes aangemeld word.

Teen hierdie agtergrond is dit duidelik dat borgtog van R15 000 geen afskrikmiddel is nie.

Alhoewel die VF Plus staan by die beginsel dat iemand onskuldig is totdat hy of sy skuldig bevind word, glo die party dat strawwe en borgtogvoorwaarwaardes in hierdie soort sake so swaar as moontlik moet wees.

Die party is daarom besig om ʼn petisie op te trek om die aanklaer in die bostaande saak te versoek om teen die borgtog te appelleer.

Die tyd het aangebreek dat misdadigers in Suid-Afrika besef hulle gaan nie langer met sagte handskoene behandel word nie, veral nie wanneer vroue en kinders ter sprake is nie.

– Adv. Lennit Max, VF Plus-provinsiale woordvoerder: Wes-Kaap

Bron: VF Plus

Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel