SUID-AFRIKA. – Taalgebruikers kon deur die jaar maandeliks vir Pharos se woord van die maand stem. Nou is dit tyd om die woord van die jaar uit die agt gunstelinge te kies.
Die agt opsies is as volg:
bedrieërverskynsel: ’n Psigologiese verskynsel waarin individue wat presteer en sukses behaal, aanhoudend oortuig is dat hulle nie werklik sukses verdien nie, dat hulle, inteendeel, eerder as bedrieërs beskou behoort te word, sodat hulle heeltyd onwaardig voel en bang is dat hulle enige oomblik ontmasker of uitgevang kan word.
boendoehof: Informele regspraak deur die gemeenskap.
bogberig: ’n Berig wat soos ’n geloofwaardige joernalistieke berig lyk, maar wat in werklikheid onwaar en gefabriseer is om die leser of kyker te mislei.
Bok-Vrydag: ’n Landwye inisiatief wat daarop gemik is om die Springbokke te ondersteun in hul stryd om hul Wêreldbeker-titel te verdedig.
mafianiseer: In ’n mafia omskep, of (soos dié van) ’n mafia word.
papierbrigade: Mense wat – vir lees en skryf – papier bo die digitale skerms van rekenaars en ander elektroniese apparate verkies.
rampokkerstaat: ’n Land of regering wat sterk deur georganiseerde misdaadgroeperings beïnvloed word, of waar misdadige elemente die politieke stelsel tot so ’n mate binnegedring het dat hulle beduidende beheer oor staatsinstellings en -besluitnemingprosesse uitoefen.
remigrasie: Die terugkeer na ’n mens se oorspronklike of vorige huis na migrasie.
Lesers kan na Paros Woordeboeke/Dictionaries se Facebookbladsy gaan om vir die woord van die jaar te stem.
Bronne: Pharos, Facebook



