KWAZULU-NATAL. – Die departement van indiensneming en arbeid het Sondag aangekondig dat hulle ’n weeklange blitsinspeksie-veldtog op tekstielfabrieke in KwaZulu-Natal gaan loods.
’n Multidissiplinêre span saam met die departement van binnelandse sake word deur die inspekteur-generaal gelei. Daar sal gemonitor word of die onderskeie tekstielfabrieke aan die arbeidswette wat deur die departement van arbeid gereguleer word, voldoen.
Klagtes rakende minimum lone, lang werksure, die indiensneming van onwettige immigrante en besighede wat nie by die Werkloosheidsversekeringsfonds geregistreer is nie, sal ondersoek word.
Maandag is foto’s deur die departement van indiensneming en arbeid van swak werkstoestande in ’n tekstielfabriek in Mandeni gedeel. ’n Smerige toilet en opwasgeriewe kan gesien word. Verder is daar onthul dat sommige werkers naaldwerk op tot soveel as 1 500 T-hemde per dag doen, maar minder as R1 000 per maand betaal word.
Blitsinspeksies sal verder die week plaasvind.
Bronne: Departement van Indiensneming en Arbeid, Twitter



