Plaasaanval – twee vroue en ‘n man aangehou, verdagte vasgetrek

Deel hierdie storie / Share this story

NOORDWES. – Volgens Celestin Crafford (52) het ‘n plaasaanval Vrydag omstreeks 12:00 op die plaas Klippan in die Stella-polisiëringsarea plaasgevind. Crafford se bejaarde ma (83) en ‘n huiswerker (57) was aanvanklik deur drie onbekende verdagtes aangehou en beroof. Crafford, wat onwetend op die toneel afgekom het, is ook aangehou.

Kapt. Sam Tselanyane sê na bewering het die verdagtes die huishulp, wat buite met wasgoed besig was, met vuurwapens gedreig en die huis in forseer.

Die bejaarde vrou was binne-in die huis. Die verdagtes het die twee vroue glo na ‘n kamer geneem waar hulle die kluis oopgebreek het. Crafford het tuisgekom en het hom in die verdagtes vasgeloop. Hulle het hom glo met ‘n vuurwapen gedreig en sy voertuigsleutels geëis.

Nadat Crafford die sleutels van sy Ford Ranger oorhandig het, het die verdagtes glo met ‘n ‘n onbekende bedrag kontant en ‘n .38 Special-rewolwer van die toneel gevlug.

Ander boere van die omgewing en die polisie is van die voorval ingelig, waarna die gesteelde voertuig op die Vergeleë-Piet Plessis-grondpad by Papiesvlakte opgemerk is. Die voertuig is op die N18 omstreeks 22 km vanaf Stella in die rigting van Setlagole van die pad gedwing.

Die verdagtes het volgens Tselanyane uit die voertuig gespring en in die bosse ingehardloop. ‘n Verdagte (30) is in hegtenis geneem en het gister op ‘n aanklag van huisroof in die Vryburg-landdroshof, verskyn.

Twee verdagtes is nog soek. Die ondersoek duur voort.

Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel