Rondloperhonde ’n gevaar in Cecilia-bos

Deel hierdie storie / Share this story

KAAPSTAD. – Drie rondloperhonde wat berug is daarvoor dat hulle glo stappers se honde in Cecilia-bos in Tafelberg Nasionale Park verskeur, het weer verlede week ’n slagoffer geëis. Hierdie keer ’n terriër genaamd Charlie.

Rosa Lemkus het haar storie op sosiale media gedeel en ander gebruikers gewaarsku om op die uitkyk te wees as hulle op Cecilia-bos of Constantianek se staproetes stap.

Tydens ’n staptog is haar hond, Charlie, voor haar verskeur deur twee honde wat met spoed uit die bosse verskyn het. ’n Brindle grys pitbull-kruising met ’n wit vlek op sy bors het vir Charlie gegryp en met hom weggehardloop, vertel sy. ’n Swart labrador-kruising het die pitbull vergesel, maar nie help aanval nie.  

Lemkus het stappers aangemoedig om die parkraad of Constantia Park SRT te kontak indien hulle die honde gewaar.

Anders sosialemediagebruikers het met stories na vore gekom wat dieselfde trant het. Parkscape het in Julie 2022 ’n waarskuwing uitgereik oor drie honde wat ’n schnauzer in die Cecilia-bos doodgebyt het.

Nog ’n stapper het in Maart 2022 oor ’n verskriklike ervaring op die Constantianek-staproete gekla. Hy het ook melding van ’n brindle medium tot groot grootte hond gemaak wat sy vriende se hond aangeval het.

Navrae is aan SANParke en CapeNature gestuur.

Bronne: Parkscape, Facebook, Twitter