SUID-AFRIKA. – Die land se geliefde sangeresse, Riana Nel en Nianell, se pa het die naweek gesterf. Nianell het Sondagoggend ’n foto van haar en haar pa op sosiale media gedeel met die woorde “Pappa … rus sag”.
Riana het ’n uur later ook ’n foto van haar pa saam met ’n huldeblyk opgesit:
“Hou solank plek vir my pappa. En sê my?
Lyk die hemel soos die Kuiseb? Ruik dit soos net na die reën geval het? Hoe voel dit om nie meer te vrees? Om nie meer angstig te wees? Het ma al ‘n drukkie kom gee? Ek sien pa het ‘n nuwe mantel gekry. Pa het nie gedink daar sou ‘n verwelkoming wees wat nog te sê ‘n kroon! ‘n Nuwe rang in God se koninkryk! Dit wat pa hier op aarde sou ontduik.
Speel pa kitaar in die hemelse orkes? Of staan pa voor en lei die gesang? Ai my hart maar ek verlang!
Is die son Jesus se gesig, maak alles sin geen skuld geen blaam. Daar waar pa op goue strate staan.
Noem hulle pa nog Flip of het pa nou ‘n nuwe naam? Geskryf jn die boek van die lewe wat niemand ooit uit sal vee. ‘n Pilaar in God se huis, met ‘n môrester.
Is pa nou verlig, is pa vol vrede? In Sy aangesig in Sy midde daar by ons Here!”
Sy het aanhangers al Saterdag ingelig dat dit nie goed met haar pa gaan nie deur ’n gebed vir hom op sosiale media te sit.
Aanhangers se huldeblyke het sedertdien ingestroom.
Bronne: Facebook, Riana Nel, Nianell



