Man doodgeskiet en nog een gewond in huisrooftogte

Deel hierdie storie / Share this story

LIMPOPO. – ‘n Man (50) is Saterdag in die vroeë oggendure tydens ‘n huisroof in Mahonisi-woonbuurt doodgeskiet, terwyl nog ‘n man (22) nie ver van hom, in ‘n aparte voorval, ook tydens nog ‘n huisroof gewond is.

Brig. Hlulani Mashaba sê na bewering het twee gewapende verdagtes eers by die oorledene se huis ingebreek. Die 50-jarige het alleen gewoon en is doodgeskiet. Sy neef, wat nie ver van hom woon nie, het ‘n skoot gehoor en ondersoek ingestel. Hy het sy oom in ‘n plas bloed gevind.

Tydens die tweede voorval het drie broers in ‘n huis geslaap toe hulle deur inbrekers oorval is. Die verdagtes het na bewering kontant geëis, waarna hulle die slagoffers van selfone en skoene beroof het. ‘n 22-jarige man is geskiet. Hy is vir behandeling na ‘n mediese fasiliteit genem.

Met voorlopige ondersoek is bevind die verdagtes is glo agter geld aan, omdat op beide die persele aluminiumprodukte soos potte en ketels gemaak word.

Die polisie ondersoek sake van moord, poging tot moord en huisroof.

Enigiemand met inligting wat die ondersoek kan help, kan kapt. Bennet Baloyi by 082 319 9724 bel.

Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel