VRYSTAAT. – Johan van der Merwe, voorsitter van Overvaal Stereo 96.1, is tans in die intensiewesorgeenheid aan ‘n ventilator gekoppel terwyl sy gesin langs sy siekbed waak.
‘n Sosialemediaplasing is op Overvaal Stereo se Facebook-blad gedeel nadat Stephanie van der Merwe op versoek van Ignaz Streicher, die stasiebestuurder, gevra is om lig te werp op haar man se siektestoestand.
Sy verduidelik hulle het as familie ‘n maand gelede aan ‘n vakansie beplan. Van der Merwe het ook ‘n maand gelede begin siek word. Daar is aanvanklik gedink hy het dalk net griep of Covid, maar hy het met longontsteking in die intensiewesorgeenheid beland. Nadat hy gesond was, was hy egter binne ‘n dag weer terug in die intensiewesorgeenheid. Hy is in ‘n geïnduseerde koma en op ‘n ventilator geplaas. Langerlaas is sy beenmurg getoets en een van die uitslae wat op 4 Desember ontvang is, het op nie-Hodgkin-limfoom gedui.
Die gesin pak moedig saam die onbekende pad na beterskap en herstel met Johan aan en bedank ‘n iedere en ‘n elk vir ondersteuning wat hulle met boodskappe en gebede gebied word.
Lees die volledige plasing hier onder:
Sy skryf vanuit ‘n gastehuis waar die gesin tuisgaan soos volg oor haar man se toestand en reis.
“‘n Briefie langs jou bed.
‘n Maand terug beplan ons… Dis tyd om te gaan kamp. Sodra die laaste funksie verby is, gaan soek ons die beste duin. Net ons, die stilte en een wees met die natuur.
Nou het God vir eers ‘n ander plan met ons, Hy moet ons geloof en liefde eers op die proef stel vir ‘n kort rukkie en dan sommer wanneer die kamp kom ons op ons pad sit tot verkondiging. Dit glo ek is die Here se plan vir ons.
‘n Maand terug het Johan net skielik begin sleg voel, wat ons sou dink is ‘n griep of Covid het dae later geëindig met longontsteking in die ICU. Maar hy was baie sterk en het daai gogga gou wegbaklei… of so het ons gedink. Hy’s binne ‘n dag weer terug na ICU en alles het net skielik gepiek. ‘n Paar dae later is hy in ‘n geïnsudeerde koma geplaas en geventileer, iets wat geen mens ooit sou kon dink of verwag het nie. Hulle het alles getoets, maar so het sy siektetoestand maar ‘n raaisel gebly tot die laaste uitweg… beenmurgtoetse.
Die tyd om te wag vir die uitslae was absoluut ondraaglik, asof tyd net stil staan. Op die 4de Desember het hulle een uitslag teruggestuur, maar daar wag nog toetse wat moet volg. Die uitslag kom, wat hulle noem Non-Hodgkin’s Lymphoma. Almal gryp dadelik fone – ons moet Google, maar as daar een ding is wat ek kan aanraai… wag dat die dokter verduidelik, want Google kan mens nogal te veel laat wonder en bekommer.
Johan is nog steeds in ‘n geïnduseerde koma op die ventilator, hoe lank weet ons nie – maar dit is vir sy liggaam om tyd te kry om te genees en herstel sodat die volgende prosesse kan begin. Die dokters praat van baie goed wat kom en gedoen moet word, maar alles op die stadium klink nog Grieks. Al wat ek weet is dat dit bitter swaar is om Johan elke dag so te sien en die wonder van wat hy voel.
Ons pad vorentoe na genesing gaan ‘n lang en moeilike pad wees, so word vir my gesê…..maar ek ken Johan, hy’s ‘n yster, hy sal gou hierdeur kom.
Ek en die kinders wil net vir elke mens, elke groepie, selfs mense wat ons nie ken nie, wat elke dag so hard vir hom bid en elke mediese personeel lid wat hard saam met ons baklei vir sy gesondheid en bystand aan ons, met ons hele hart en siel bedank en loof. Ek het nooit besef Johan is so geliefd regoor die land nie.
En wanneer ons hierdie boek se bladsy omblaai, is daar weer die vooruitsig, my liewe man, dat jy weer vir mense sal lewe en doen soos jy nog altyd het.”
Die stasie se personeel en luisteraars wens Van der Merwe ‘n spoedige herstel toe en die gemeenskap word versoek om die familie se privaatheid te respekteer, waar die mense beperkte besoekure verdeel het om by ons geliefde Johan te wees. Die besoekure is van so aard, nie eers nabygeleë familie kan tans ‘n versoek toegestaan word om hom te besoek nie.
Foto’s – skermgrepe van die foto’s wat vroeër die week geneem is van die Van der Merwe-familie toe hulle die hospitaal besoek het.
Bron: Overvaal Stereo 96.1
Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel



