’n Onlangse studie wat met identiese tweelinge gedoen is, het bevind dat ’n veganistiese dieet eerder as ’n omnivoordieet, kardiovaskulêre gesondheid verbeter.
Navorsers by Stanford Medicine het die studie vanaf Mei tot Julie 2022 op 22 pare identiese tweelinge uitgevoer. Daar is in so min as agt weke al ’n verbetering gesien.
Identiese tweelinge is gekies sodat navorsers seker kan wees van hulle genetiese samestelling. Ander faktore soos leefstylkeuses en opvoeding is dus beperk omdat die pare tweelinge uit dieselfde huise gekom het.
Dr. Christopher Gardner, senior outeur van die navorsingstuk, sê hulle was verstom oor die optrede van die tweelinge. “Hulle het dieselfde aangetrek en gepraat.” Die tweelinge het tot mekaar se deurmekaar geskerts verstaan, wat net moontlik is omdat hulle so baie tyd saam spandeer.
Een lid van die tweeling het ’n veganistiese plantgebaseerde dieet, sonder vleis of diereprodukte gekry. ’n Omnivoordieet, wat hoender, vis, kaas, eiers en diereprodukte insluit, is vir die ander lid van die tweeling gegee.
Daar is bevind dat die meeste verbetering binne die eerste vier weke van die 12 weke studie plaasgevind het. Alle tweelinge wat op die veganistiese dieet was, se cholesterol- en insulienvlakke, sowel as liggaamsgewig, was laer. Hoë insulienvlakke verhoog die risiko vir diabetes.
Dr. Gardner wys daarop dat die veganistiese deelnemers minder vette ingeneem het, hulle veselinname verhoog het en gewig verloor het. Gevolglik het hulle kardiovaskulêre gesondheid verbeter.
Die studie is op 30 November in die JAMA Network Open Journal gepubliseer.
Besoek die volgende skakel vir maklike veganistiese resepte: https://af.hiloved.com/veganistiese-idees/
Bronne: Science Daily, Stanford Medicine



