Matrikulante word gewaarsku teen ‘pens down’- partytjies

Deel hierdie storie / Share this story

Matrikulante is tans besig om hulle laaste eksamenvraestelle vir die Nasionale Senior Sertifikaat (NSS) te skryf. Die departement van onderwys maan matrikulante om nie die sogenaamde “pens down”-partytjies by te woon nie en om verantwoordelik op te tree.

Hulle NSS-eksamen het die 30ste Oktober afgeskop en maak amptelik op 6 Desember klaar. Die “pens down”- tradisie behels dat matrikulante jaarliks die einde van hulle skoolloopbaan vier. Likho Bottoman, direkteur van sosiale samehorigheid in skole van die departement van onderwys, het homself ook hieroor uitgelaat. Hy raai leerders aan om aan die gevolge van roekelose gedrag en feesvieringe te dink.

Mbali Frazer, LUR van onderwys in KZN, het ‘n versoek aan die leerders gerig. Hy vra dat hulle hul skooluniforms op die laaste dag wat hulle skryf, by die skool moet los vir volgende jaar se behoeftige leerders.

Ouers word aangeraai om waaksaam te wees. Faith Mazibuko, LUR van onderwys in Gauteng, sê dat ouers en voogde ten alle tye bewus moet wees waar hulle kinders hulle bevind.

’n Finale datum vir die vrystelling van die NSS-resultate is nog nie bekendgemaak nie.

Bronne: BNN, Times Live, The Citizen