Voormalige werknemers van hoofregterskantoor vir ‘korrupsie’ van R225 m. in hof

Deel hierdie storie / Share this story

GAUTENG. – Nkosikhona Mncube (52), Casper Coetzer (58) en Yvonne van Niekerk (46), die eienaars van ZA Square Consulting, voormalige werknemers van die kantoor van die hoofregter, is gister vir beweerde korrupsie van R225 miljoen in hegtenis geneem. Die drie het daarna in die Palmridge-landdroshof verskyn.

Kol. Katlego Mogale van die Valke sê die trio het op hulle radar gekom nadat ‘n tender in Mei 2022 deur ‘n maatskappy genaamd Thompson Reuters aan hul maatskappy toegeken is. Forensiese ouditering is gedurende Junie 2022 gedoen.

Tydens die oudit is vasgestel die drie het as sub-kontrakteurs belangstelling gewys sonder om hul eienaarskap van ZA Square Consulting bekend te maak en het met die wete van die botsende belange deel van die tendertoekenningskomitee gevorm.

Hulle het die Wet op die Voorkoming en Bekamping van Korrupsie-aktiwiteite en die Wet op Openbare Administrasiebestuur oortree en die saak is na die Johannesburgse eenheid vir ernstige korrupsie-ondersoeke verwys.

Gedurende Augustus 2022 het die Valke ‘n soek-en-beslagleggingsoperasie op die drie indivudue se persele uitgevoer waar beslag op elektroniese toerusting vir die indiepteondersoek gelê is.

Na die vlugtige hofverskyning is al drie borg van R10 000 toegestaan en die saak is vir afhandeling tot 7 Februarie uitgestel.  

Bron: SAPD Valke

Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel