GAUTENG. – Daar word steeds na die liggaam van die jong man (21) wat Saterdag tydens ‘n reiningsritueel saam met ‘n jong vrou (18) deur die Kliprivier in Olifantsvlei meegesleur is gesoek.
Die jong vrou se liggaam is Woensdag gekry en sy is deur familie uitgeken.
Die soektog duur vandag voort.
FiND iT het voorheen soos volg berig:
GAUTENG. – ‘n Jong meisie (18) en ‘n jong man (21) is Saterdagaand tydens ‘n reinigingsritueel in die Kliprivier in Olifantsvlei in die suide van Johannesburg weggespoel.
Robert Mulaudzi, woordvoerder van Johannesburg se nooddienste, sê na dae verstryk het, word daar steeds deur duikeenhede na die twee se liggame gesoek.
Nooddienste is Sondag van die twee vermiste persone in kennis gestel. Na verskeie dae van soek sal daar nou van honde-eenhede se hulp gebruik gemaak word om die liggame op te spoor.
Mulaudzi sê ‘n tradisionele geneser was na bewering besig met ‘n reinigingsritueel toe die twee jong mense, wat nog gereinig moes word, deur ‘n stroom meegesleur is. Die geneser kon ongedeerd uit die rivier kom.
Nooddienste het weer teen die potensiële gevaar by riviere, strome, en damme tydens die reënseisoen gewaarsku. Kommer bestaan oor die aantal verdrinkings wat in die stad plaasvind, maar volgens Mulaudzi veral tydens godsdienstige aktiwiteite.
Tradisionele genesers, profete en pastore word versoek om kerkgangers se veiligheid tydens reiniging en dooprituele te verseker.
Bron: City of Joburg EMS
Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel



