HOOPSTAD. – Dié plattelandse dorp se gehekelde Kersboom wat uit 10 000 kleurvolle gehekelde blokke bestaan, is te danke aan bejaardes en jongmense wat hande gevat het en waardevolle wysheid wat aan die jonges oorgedra is.
Reinette Rautenbach sê in ‘n sosialemediaplasing die hekel van die Kersboom tydens hul Hoop-en Liggie-projek het die gemeenskap bymekaargebring.
Die jeugbediening van die kerk besoek gereeld die plaaslike ouetehuis. Die NGK-gemeente het op dié innoverende wyse besluit waartydens die bejaardes en kinders van mekaar kon leer. Dus het die kuns om te hekel, wat deur die ouer garde aan die jeug oorgedra is, ‘n weeklikse instelling geword.
Ouma Japie Olwage (102) het Janco le Roux (16), haar agterkleinkind, leer hekel.
‘n Allemintige 10 000 gehekelde blokke is ingesamel om ‘n reuse-Kersboom by die Hoopstad Sentrum vir Bejaardes op te rig. Boonop is Hoofstraat vanaf die kerk tot by die ouetehuis met Kersfeesliggies getooi.
‘n Soortgelyke Kersboom wat op Wellington in die Boland gesien is, het die idee by ds. Victor Cloete en Lorraine Kapp van die ouetehuis laat posvat. Nadat wol voorsien is, is gehekelde blokkies selfs vanuit die Wes-Kaap en Gauteng ontvang.
Hekelaars kon in ‘n plaaslike restaurant werk en dan die hekelwerk so laat vir ‘n volgende persoon om die blok te voltooi.
Lorraine Kapp sê sy is dankbaar om die gemeenskap se samewerking met die projek te ervaar.
“Ons almal is maar imperfek, en dan doen ons iets so perfek. Dit is in hierdie oomblikke wat ons al ons verskille in S.A. agter ons kan sit en werk vir dieselfde doel. Met hierdie fees wou ons LIG en HOOP en ook VREDE bring.”
Ds. Victor het op sy beurt gesê in ‘n wêreld met negatiwiteit het die projek hoop en vreugde gebring.
Vriendskappe is gesmee terwyl daar ‘n blokkie gehekel is, stories gedeel en vaardighede aangeleer is.
Rautenbach sê baie mense se geliefdes is nie meer met Kersfees teenwoordig nie, daarom is daar selfs ‘n herinneringsboom waar name van geliefdes op ‘n kaartjie aan die boom gehang is.
Selfs beurtkrag kon nie die besonderse dorpsgemeenskap se optimisme keer nie.
Bron: Reinette Rautenbach, Hoopstad Facebook-blad
Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel



