*PERSVERKLARING
Die Demokratiese Alliansie (DA) het vandag strafregtelike klagtes teen Renosterberg-munisipaliteit ingedien vir die versuim om pensioenfondsbydraes van munisipale werknemers oor te betaal.
Harold McGluwa, MPL – DA Noord-Kaapse provinsiale leier, het gesê: “Ons weet dat talle werknemers ernstig benadeel is deur die munisipaliteit se oortreding van artikel 13A van die Pensioenfondswet. Die presiese aantal is egter onduidelik weens die munisipaliteit se eie gebrek aan deursigtigheid en swak administrasie.”
“Agterstallige bydraes dateer glo so ver terug as Oktober 2017. Volgens inligting wat in Junie vanjaar aan die wetgewer voorgelê is, word die Consolidated Retirement Fund (CRF) R9,836 miljoen deur Renosterberg geskuld terwyl die Municipal Workers’ Retirement Fund (MWRF) meer as R12,263 miljoen geskuld word. Agterstallige skuld aan aftreefondse beloop dus meer as R22 miljoen.”
“Volgens artikel 13A is werkgewers dit aan werknemers verskuldig dat hulle álle bydraes tot fondse volledig betaal. Dit is ook die plig van die werkgewer om die korrekte bydraebetalings te maak. Voorts is laat betaling of nie-betaling van aftreefondsbydraes volgens wet strafbaar.”
“Gegewe die onreg wat aan werknemers veroorsaak is deur Renosterberg se pensioenmislukking, het die DA ’n strafregtelike klag teen Renosterberg, en gevolglik sy stadsbestuurder, uitvoerende burgemeester en hoof finansiële beampte, vir die oortreding van artikel 13A gelê.”
“Pensioenmisdade is ‘n aanslag op die toekoms en waardigheid van munisipale werknemers, wat jare aan die diens van hul werkgewer gewy het. Afgesien van die risiko van die verlies van hul aftreesekuriteit wat hulle deur hul aftrede moes gedra het, is daar ook ernstige nagevolge vir werknemers omdat risikovoordele soos begrafnis-, dood- en ongeskiktheidsdekking nie betaal kan word indien ‘n eis gedurende hierdie tyd sou ontstaan nie.”
“Die DA sal die Renosterberg-saak fyn dophou. Ons volg ook die saak teen voormalige stadsbestuurder van Kai !Garib, Johnny Mackay, wat na bewering ook versuim het om te verseker dat bydraes wat van munisipale werknemers afgetrek is, aan die CRF betaal is. Die totale benadeling van die fonds sal na bewering R9 miljoen oorskry.”
“Die DA oorweeg ook verdere stappe teen ander Noord-Kaapse munisipaliteite wat ook agterstallige maandelikse statutêre bydraes tot pensioenfondse aangemeld het.”
“Dit is hoogtyd dat wanbetalende munisipaliteite soos Renosterberg die munisipale amptenare of raadslede wat deur wanbetaling van maandelikse bydraes tot pensioenfondse geraak word, vergoed.”
*PERSVERKLARING
Lees ook: ‘Dr. Matthew Lani’ vrygelaat, aanklagtes laat vaar



