‘Huisrowers’ in gesin se voertuig vasgetrek

Deel hierdie storie / Share this story

NOORDWES. – Twee huisrowers, ‘n man en vrou onderskeidelik 34 en 36 jaar, is Donderdagoggend 26 Oktober ná ‘n beweerde huisroof in Pekanstraat, Meiringspark in Klerksdorp glo in die slagoffers se geroofde voertuig vasgetrek.

Kol. Adéle Myburgh sê die gesin het geslaap toe die dogter (27) na bewering omstreeks 02:00 deur twee onbekende mans, met balaklawas vermom, wakker gemaak is. Sy is glo met ‘n vuurwapen gedreig terwyl vuurwapens en geld geeïs is.

‘n Derde verdagte het sy verskyning gemaak, waarna die dogter na haar ouers se kamer geneem en almal vasgebind is. Hierna het die verdagtes die huis deursoek en selfone, geld en ‘n skootrekenaar gebuit. Terwyl die verdagtes nog in die huis besig was, kon die pa homself loswikkel en deur die venster na bure ontsnap om hulp te ontbied.

Die verdagtes, wat gemerk het die pa is weg, het in die gesin se wit Mercedes-Benz van die toneel gevlug.

Polisielede wat aan diens was, het tydens roetinepatrollie twee voertuie, ‘n wit Mercedes-Benz en ‘n silwer Volkwagen T-Rock, wat naby mekaar in Joubertstraat in Freemansville, naby die N12 in Klerksdorp geparkeer gestaan het, opgemerk.

Die voertuie het verdag voorgekom en rugsteun is aangevra. Toe polisielede die voertuie nader, het een verdagte weggehardloop. ‘n Man en vrou wat in die Mercedes-Benz gesit het, is ondervra. Tydens ondervraging het polisielede ‘n radio-boodskap ontvang om op die uitkyk te wees vir ‘n voertuig wat in ‘n huisroof gesteel is. Die beskrywing het met dié van die voertuig voor hulle ooreengestem en hulle het die man en vrou in hegtenis geneem.

Myburgh sê kontant en selfone wat vermoedelik tydens die beweerde huisroof gesteel is, is binne-in die voertuig gevind.

Die twee verdagtes het Maandag op ‘n aanklag van huisroof in die Klerksdorp-landdroshof verskyn.

Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel