Gekloonde voertuig op Hartswater gevind

Deel hierdie storie / Share this story

NOORD-KAAP. ‘n VW Polo wat gesteel, gekloon en toe na bewering aan die huidige eienaar van Hartswater verkoop is, is deur die E2-kamerasisteem opgemerk, waarna die polisie in kennis gestel is.

Lt.kol. Sergio Kock sê Hartswater se honde-eenheid was Donderdag met patrollies besig toe die vermoedelik gesteelde voertuig op die N18-pad naby Hartswater opgemerk, voorgekeer en deursoek is.

Die polisie se voertuigmisdaadondersoekeenheid kon bevestig die motor is onlangs gesteel en in Pretoria gekloon voordat dit na bewering aan die eienaar in wie se besit dit gevind is, verkoop is.

Alhoewel daar op die voertuig beslag gelê is, duur die ondersoek voort en nog geen inhegtenisnemings is gemaak nie.

Maj.genl. Johan Bean, Frances Baard-distrikskommissaris, het die polisie en die feit dat die E2-kamerasisteem in plek is, geprys en die belangrikheid van vennootskapspolisiëring beklemtoon.

Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel