DA maak stem dik teen geslagsgeweld in die Noord-Kaap

Deel hierdie storie / Share this story

Die Demokratiese Alliansie (DA) het ons steun vir slagoffers van mensehandel en geslagsgeweld getoon deur ‘n betoging te lei buite Kimberley se landdroshof.

Die DA se betoging het saamgeval met die borgverhoor van ‘n man wat daarvan beskuldig word dat hy vroue met die vals belofte van werk na Kimberley gelok het, net om hul dan in ‘n hotel in die stad vir seksuele slawerny aan te hou. Hy word van mensehandel, verkragting, gedwonge verkragting, aanranding, ontvoering, onwettige immigrasie en dwelmbesit aangekla.

As ouers, tannies, ooms en grootouers, is dit vir ons absoluut angswekkend om te dink dat die euwel van mensehandel hier voorkom. ‘n Mens wil nie aan jou tuisdorp as ‘n veilige hawe vir mensehandelaars dink nie.

Die DA het dus vandag betoog om te wys dat mensehandel geen plek in Kimberley se ekonomie het nie.

Almal moet saamstaan om hierdie situasie te beredder en om ons dorp uit die kloue van misdadigers te red. Dit is net die DA wat Kimberley van ondergang kan red.

Ons moet eerstens seker maak dat die SAPD en veral misdaadintelligensie voldoende bronne het. Daar is goeie manne en vroue wat ons gemeenskappe dien. Maar hul kan ook net soveel doen wanneer die ANC voortgaan om te min bronne aan die polisiediens toe te wys. Terwyl ons in vrees van misdaad leef en terwyl die SAPD moet sukkel sonder basiese noodsaaklikhede, mors die ANC elke jaar R3.3 miljard aan die BBP-beskerming van politici.

Ons kan hierdie geld soveel beter aanwend deur seker te maak dat misdaadintelligensie die nodige bronne het om misdade soos mensehandel oop te vlek. Hierdie tipe misdaad gaan dikwels ongesiens verby. Dit is net deur genade dat een van die slagoffers in hierdie geval kon ontsnap en by die polisie kon uitkom – hoe sou hul andersins geweet het om na die hotel te gaan en die ander slagoffers te red? Hoeveel ander misdade word gepleeg en hoeveel ander misdadigers word nooit aanspreeklik gehou nie, bloot omdat SAPD nie die nodige bronne het nie?

Ons moet seker maak dat die SAPD behoorlik befonds word om ons gemeenskappe te red, veral ons kwesbare jong vroue.

Ons moet tweedens erken dat mensehandel makliker is wanneer mense toenemend desperaat is vir werk. Dit maak dit makliker om jong mense met die valse belofte van werk te lok, net om hul dan op te sluit en in seksuele slawerny te verkoop. Ons weet dat dit voorheen in die Noord-Kaap gebeur het en ons moet keer dat dit weer gebeur.

Ons moet die ekonomie red en seker maak dat daar ‘n omgewing is wat dit makliker maak om volhoubare werksgeleenthede op ‘n volhoubare wyse te skep. Ons kan keer dat jongmense aan die heersenskim van werk glo deur seker te maak dat daar genoeg regte werk vir almal is.

En ons moet derdens ons jongmense oplei oor die metodes wat sindikate gebruik. Ons moet hulle leer om versigtig te wees, veral wanneer hulle aanlyn met vreemdelinge gesels.

Om dit te vermag vereis ‘n gemeenskaplike benaderig. Dit vereis dat almal moet saamspan. En dit begin deur saam te staan, soos wat ons vandag gedoen het, om te sê dat genoeg nou genoeg is.

Fawzia Rhoda, LPW

Provinsiale Voorsitter van die DA Women’s Network

082 408 8070 

Tharina Whittaker

Navorser

071 251 5558

Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel