DA doen ‘n beroep vir Noord-Kaapse veldbrandtaakspan

Deel hierdie storie / Share this story

Die Demokratiese Alliansie (DA) doen ‘n beroep op die Premier, Dr Zamani Saul, om dringend ‘n multisektorale veldbrandtaakspan te stig om die oorsake van onlangse veldbrande in Danielskuil, Kuruman en Postmasburg te ontleed. Die taakspan moet ook kyk na brandbestrydingsreaksietye en sorg wat deur die regering aan geaffekteerde boere verskaf word.

Ons versoek kom na ‘n vergadering met boere in die Danielskuil-omgewing wat verliese gely het weens brande, asook ‘n oorsigbesoek aan ‘n plaas in die Kuruman-omgewing wat onlangs groot skade gely het.

Die boere met wie ons ontmoet het, het verliese aan wild, vee en weiveld gely. Miljoene rande se skade is aan huise en infrastruktuur berokken. Gegewe die kritieke rol wat boere in die verskaffing van die land se voedselmandjie speel, benodig hulle groter algehele ondersteuning van die provinsiale regering.

Die DA het vier ernstige sake uitgewys wat onmiddellike aandag van die regering verg om lewens, plase, lewensbestaan en voedselsekerheid te beskerm:

  1. Benewens die warm, droë en winderige toestande wat ervaar word, is daar kommer dat baie brande moontlik deur ‘n kriminele element gestig word. Dit is daarom noodsaaklik dat ‘n breër ondersoek na die oorsake geloods word, veral omdat brandstigting in die provinsie gestyg het. Terwyl kriminele sake geopen is, blyk daar nie die nodige wil te wees om hierdie sake te bespoedig en af te handel nie.
  2. Brandvoorkomingsmetodes, insluitend die afdwinging van brandbane deur alle grondverwante belanghebbendes, insluitend grondeienaars, munisipaliteite, provinsiale regering, Sanral, Eskom, Transnet en ander, moet orals aktief afgedwing word.
  3. Die verskaffing van vinnige toegang tot ‘n konsekwente voorsiening van hulpbronne om brande op ‘n gekoördineerde wyse te bestry, moet verbeter word. In die gebiede wat besoek is, was daar ‘n tekort aan water. Gemeenskappe het probeer om ondersteuning van die plaaslike waterrade te kry om te help met die voorsiening van water in krisistye. Dit verg egter groter politieke ingryping. Die tyd wat dit neem om lugsteun te implementeer, moet ook verminder word.
  4. Die vrystelling van sorg aan boere wat deur die brande geraak word, moet geëskaleer word. Rampverklarings moet met meer haas ingestel word om hulpbronne, insluitend finansiële bystand en die verskaffing van voer, los te maak. Sekondêre ondersteuning, in terme van die skraap van grondpaaie en die verskaffing van brandstofsubsidies vir vervoer en kragopwekking, moet ook geïmplementeer word om boere op die pad na herstel te help kry.

Die DA beywer hom al lank vir ‘n beter benadering tot rampvoorkoming en rampbestuur in die Noord-Kaap en hoewel aspekte hiervan oor die jare verbeter het, het ons nog ‘n lang pad om te stap.

Die DA het ‘n brief aan die premier gerig waarin ons hom versoek om dit te oorweeg om ‘n veldbrandtaakspan saam te stel, om saam met die Provinsiale Rampbestuursentrum, die Suid-Afrikaanse Polisiediens en alle regerings- en private belanghebbendes te werk om die oorsake van die brande te stuit, met ‘n vinniger brandbestrydingsreaksie vorendag te kom en om te verseker dat rampondersteuning in so kort moontlike tyd aan almal wat geaffekteer is, vrygestel is.

Media Navrae

Harold McGluwa, LPW
DA Noord-Kaap Provinsiale Leier
082 440 1779

Shelley de Witt
Noord-Kaap Mediabestuurder
082 847 1387

Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel