LEES OOK: Vroeë waarskuwings vir vanjaar se ‘Black Friday’
Mosotho Moeypa, die voorsitter van die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK), het aangekondig dat die aftelling na die 2024- nasionale en provinsiale verkiesings amptelik begin het.
Moeypa het die hoofrede by die Verkiesingskommissie se kommunikasiebekendstelling by die Gallagher-konferensiesentrum in Midrand, noord van Johannesburg, gelewer.
Hy het gesê die publiek moet geduldig wees met onafhanklike kandidate wat vir die eerste keer aan verkiesing gaan deelneem, terwyl die nodige wetgewende aanpassings gemaak word. “Byna almal wat ons teëgekom het, het die mening uitgespreek dat die 2024- nasionale en provinsiale verkiesing ‘n komplekse onderneming sal wees; ons huldig nie ‘n ander siening nie. Die kommissie sal voortgaan om burgerlike en kiesersopvoedingsinisiatiewe te versterk om seker te maak dat kiesers ten volle ingelig is oor hul rolle en verantwoordelikhede in die komende verkiesings. Dit is belangrik omdat ingeligte kiesers die basis van ’n florerende demokrasie is.”
Die OVK se adjunk-hoofverkiesingsbeampte, Mawethu Mosery, sê die bekendstelling dien as ‘n uitnodiging vir Suid-Afrikaners om aan die verkiesingsproses deel te neem. Moser sê dit is die kans vir burgers om vir die stembus te registreer.
“Ons sal dit met Suid-Afrikaners deel en sê, kom ons konsentreer nou daarop om op die kieserslys te wees. Uiteraard doen ons dit nadat ons die sensussyfers ontvang het wat vir ons aandui dat ons meer as 40 miljoen Suid-Afrikaners het wat op die kieserslys behoort te wees. Ons het wel ‘n groot gaping om te sluit, want tans het ons sowat 26 miljoen kiesers op die rol. Daar is dus ’n groot aantal Suid-Afrikaners wat nie op die kieserslys is nie, wat ons moet aanmoedig,” het Mosery gesê.
#Verkiesings #Elections #Afrikaans #Nuus
Bronne gebruik: SABC Nuus; Persverklaring deur die Suid-Afrikaanse regering (24 Oktober 2023).



