GAUTENG. – Vier verdagtes, drie polisielede en ‘n klaagster, is vir beweerde korrupsie van R580 000 vasgetrek.
Kol. Katlego Mogale sê die vier is gedurende die naweek toegesluit nadat geld betaal is sodat die klaagster glo inhegtenisneming kan vermy.
Na bewering het die twee lede van Silverton se honde-eenheid, ‘n lid van misdaadintelligensie en ‘n besigheidspersoon (die klaagster) die beweerde korrupsie gepleeg sodat die klaagster in die saak nie in hegtenis geneem moet word nie.
Mogale sê die drie polisielede het glo na die klaagster se huis gegaan en oor haar paspoort met vals stempels navraag gedoen. Hulle het volgens rapportering die klaagster in hegtenis geneem en glo geskimp hoe die saak teen betaling laat vaar kan word.
Hulle het glo R1 miljoen geeïs en die klaagster ook gedreig met die inhegtenisneming van haar seun. Sy het toe na bewering ingegee en R580 000 oorhandig, waarna sy vrygelaat is.
‘n Korrupsieklag is by die Valke geregistreer en nadat die ondersoek gedoen is, is al vier die verdagtes Saterdag in hegtenis geneem.
Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel



