*PERSVERKLARING
Die Demokratiese Alliansie (DA) het gister buite die Noord-Kaapse gesondheidsdepartement betoog teen diepgewortelde korrupsie wat gesondheidsorgdienste oor die provinsie heen grootliks verlam het.
Dr. Isak Fritz, LPW, het gesê: “Oor die afgelope twee dekades is die gesondheidsdepartement toenemend gebruik as ‘n kontantkoei vir individue met vriende in die regte plekke. Daar was min tot geen gevolge vir diegene wat hulself verryk het met geld wat bedoel is om die lewens van die Noord-Kaap se siekstes en kwesbaarste mense te red.”
“Korrupsie wissel van gevalle wat verband hou met die nuwe geestesgesondheidhospitaal, waarvoor die voormalige LUR van paaie en openbare werke, John Block, twintig jaar later in hegtenis geneem is, tot die sake van Intaka en Wataka, waarin John Block ook saam met die Uruguayse magnaat, Gaston Savoi, en ander soos gesondheid se huidige finansiële hoof, mnr. Daniel Gaborone, gearresteer is vir die twyfelagtige aankoop van watersuiweraars, suurstofmasjiene en dialisemasjiene, tot die arrestasie van die voormalige hoof van die Robert Mangaliso Sobukwe-hospitaal, Gordon Moncho, op aanklag van tenderbedrog met betrekking tot konstruksiekontrakte.”
“Daar is ook die voortslepende saak van die voormalige hoof van gesondheid, Steven Jonkers, wat na bewering onreëlmatig ‘n sekuriteitstender toegeken het, en wat nou in die premierskantoor dien.”
“Onlangs is daar ook die groeiende skandaal van dr. Dion Theys. Ondanks talle arrestasies vir beweerde bedrog ten opsigte van persoonlike beskermende toerusting (PPE) en selfs ‘n kriminele skuldigbevinding vir die oortreding van die Wet op Openbare Finansiële Bestuur ten opsigte van die aangaan van onreëlmatige huurkontrakte vir verplegingakkommodasie, is hy bevorder tot waarnemende hoof en toe hoof, met ‘n vyfjaar vastetermynkontrak. Eers ná sy derde PPE-inhegtenisneming is hy na sy voormalige pos van mediese direkteur verskuif, waar hy stééds op die betaalstaat van die departement is.”
“Die hoof finansiële beampte, mnr. Daniel Gaborone, wat saam met Theys op die PPE-aanklagte gearresteer is, is intussen oorgeplaas na ‘n ander departement.”
“Die praktyk om diegene wat van siekes steel, te beloon en hulle ten alle koste binne die gesondheidstelsel, of provinsiale regering te behou, moet dringend tot ‘n einde kom.”
“Die koste van korrupsie op gesondheidsorg is verwoestend. Onreëlmatige uitgawes in die provinsiale gesondheidsdepartement staan op ‘n massiewe R9, 370 miljard.”
“Hierdie vermorste geld kon baie beter gebruik geword het deur om bykomende verpleegsters en dokters aan te stel en broodnodige toerusting aan te skaf. Die Robert Mangaliso Sobukwe-hospitaal kon meer teaterverpleegkundiges aangestel het om al nege teaters operasioneel te maak, in teenstelling met die vier wat tans gebruik word. Dit sal help om die groeiende agterstand van 6 373 chirurgiese sake aan te pak. Bykomende ambulanse en mediese nooddienspraktisyns kon aangestel gewees het om meer ambulanse en pasiëntvervoerders te operasionaliseer. Tekorte aan medikasie weens kontantvloeibeperkings, kon ook voorkom gewees het. Die massiewe agterstande van brille, gehoorapparate en rolstoele kon ook uitgewis wees.”
“Die DA het vandag geëis dat die LUR van gesondheid, Maruping Lekwene, moet ophou om misdadigers te huisves en eerder korrupsie uit roei.”
“Ons het ook ‘n beroep op Lekwene gedoen om die talle amptenare wat by korrupsie geïmpliseer is, te skors, om beslissende dissiplinêre stappe te neem teen mnr. Gaborone, wat in ‘n aantal kriminele sake deurgeloop het, en om dr. Theys onmiddellik af te dank, aangesien hy reeds een skuldigbevinding het. Die moontlikheid dat verdere skuldigbevindings vir Theys sal volg, is ook groot.”
“Gesondheidsorg behoort aan almal en ons moenie toelaat dat dit gevange gehou word deur diegene wat in die stelsel bly om hul eie belange te beskerm ten koste van ander mense se lewens nie.”
*PERSVERKLARING
Lees ook: Joodse ANC-vroueligawoordvoerder bedank uit ANC na Hamas-aanval



