MPUMALANGA. – Rose Mahlangu (58), ‘n onderwyseres, is Maandagaand glo met geweld van haar huis in Phola Park, Kwamhlanga gevat toe sy tydens ‘n beweerde huisroof tuisgekom het. Sy is Dinsdagoggend met ‘n noodlottige skietwond gevind waar sy langs die pad gelos is.
Kol. Donald Mdhluli sê volgens inligting het drie verdagtes die onderwyseres se man binne-in ‘n motor by die motorhuis, waar hy gesit het, bestorm. Hy is na bewering met ‘n wapen die huis ingedwing waarna hy vasgebind, die huis geplunder en twee selfone gesteel is.
In daardie stadium het die onderwyseres glo in ‘n Ford Everest-sportnutsvoertuig by die huis aangekom. Die verdagtes is glo die huis uit, het haar die voertuig inforseer en met haar weggery.
Die voorval is aan die polisie rapporteer wat die voertuig dieselfde aand opgespoor het.
Dinsdagoggend is die onderwyseres se lewelose liggaam egter met ‘n skietwond gevind waar sy langs die pad gegooi is. Sy is dood verklaar.
Mdhluli sê nog twee huise is dieselfde aand in die area geteiken en tydens beweerde rooftogte aangeval.
Tydens een van die voorvalle is ‘n onderwyseres (37) in die been geskiet. Sy is glo gedwing om ‘n onbekende bedrag vanaf haar bankrekening oor te dra. Haar skootrekenaar en selfone is glo ook tydens die voorval gesteel.
‘n Manlike slagoffer (34) is ook dieselfde aand van kontant beroof, maar is nie beseer nie.
Die verdagtes van die rooftogte, ontvoering en moord is nog op vrye voet, maar die polisie-onderoek duur voort om die skuldiges op te spoor.
Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel



