NOORDWES.- Orapeleng Matlape (28) is in die Lichtenburg-landdroshof skuldig bevind aan die verkragting van ‘n tienermeisie op 28 Mei 2017 toe sy 16 jaar oud was. Hy is lewenslank tronk toe gestuur.
Henry Mamothame, woordvoerder vir die NVG, sê die voorval het in Tlhabologong naby Coligny plaasgevind toe die veroordeelde verkragter en twee makkers die tienermeisie oorval het toe sy huis toe gestap het. Sy is glo by ‘n sinkhuis ingesleep en om die beurt verkrag. Die slagoffer het die volgende dag huis toe gegaan en haar ma vertel, waarna hulle polisie toe is.
Die drie verdagtes is in Julie 2017 in hegtenis geneem, maar die saak was voorlopig teruggetrek en van die rol geskrap sodat verdere ondersoek gedoen kon word.
In Junie 2021 is die saak weer op die rol geplaas, waarna Matlape en sy medebeskuldigde Kamogelo Mokgothu weer in hegtenis geneem is. ‘n Derde verdagte is nog op vrye voet.
Matlape het skuldig gepleit en die staat het dit aanvaar.
Mokgothu het onskuldig gepleit en sy saak is vir die aanstelling van ‘n voorsittende beampte tot 13 Desember uitgestel.
Ter verswaring van Matlape se vonnisoplegging het die staatsaanklaer die hof gevra om nie van die minimum voorgeskrewe vonnis af te wyk nie. Die landdros het saamgestem, kommentaar oor die voorkoms van verkragtings gelewer en gesê dit moenie langer geduld word nie.
Matlape is ook onbevoeg verklaar om ‘n vuurwapen te besit en sy naam word in die nasionale register van seksuele misdrywe aangeteken.
Bron: NVG
Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel



