Inwoners van Carringtonweg in Kimberley was geskok en ontsteld toe ‘n gedeelte van ’n historiese eiendom, voorheen bekend as Carrington Lodge, wat in ’n erfenisgebied is, onlangs gesloop is om plek te maak vir kantoorruimte.
Dié sloping het glo sonder enige voorafgaande insette van die inwoners plaasgevind, wat vrae oor die deursigtigheid en wettigheid van die herhersoningsproses na vore gebring het.
Thoko Riet, woordvoerder vir die Sol Plaatje-munisipaliteit, het gesê ‘n aansoek is op 6 Mei 2023 ingedien vir die verwydering van beperkende titelaktebeperkings, herhersoning vanaf residensiële 3 na besigheid 3, met die doel om kantore op die eiendom te ontwikkel en die boulyn in ooreenstemming met die Sol Plaatje-grondgebruikbestuursverordeninge en die ruimtelike beplanning en grondgebruiksbestuurswet te ontspan.
’n Inwoner van Carringtonweg het aan FiND iT gesê huiseienaars in dié straat, wat hoofsaaklik ’n residensiële gebied is, was nie bewus van hierdie ontwikkeling nie en is nie in kennis gestel dat bome op die eiendom afgekap sou word nie. Dié area is ’n historiese erfenisgebied in Kimberley en word gekenmerk deur ’n Victoriaanse boustyl en ou bome op die erwe.
“Al wat ons in Kimberley oor het, is die bome en nou is daardie pragtige bome afgekap. ‘n Deel van die eiendom is ook gesloop, sonder ons insette.”
Riet het gesê met ‘n terreininspeksie op 2 Augustus 2023 was die bestaande struktuur steeds intak en nie gesloop nie. “‘n Kennisgewing is in die DFA-koerant op 26 Mei en 2 Junie 2023 gepubliseer. ‘n Terreinkennisgewing is ook op Erf 1023 geplaas om die publiek in kennis te stel en geaffekteerde en belangstellende partye uit te nooi om kommentaar te lewer of beswaar te maak teen die aansoek. Die sluitingsdatum vir besware was vasgestel vir 3 Julie 2023 en geen besware is ontvang nie.”
Inwoners stem nie saam met dié datum nie. “Die stukkie papier het ons eers op 8 September op die heining opgemerk. Die eiendom is al op 30 Augustus gesloop! “Niemand van ons het enigiets geweet nie, anders sou ons vir seker beswaar gemaak het en dis ook hoekom ons nou na die media gaan.”
Riet het gesê die eienaars van die voormalige Carrington Lodge het toestemming van die erfenisraad vir die voorgestelde ontwikkeling verkry. “Die erfenisraad het die projek ondersteun, maar het sekere voorwaardes gestel wat nagekom moes word. Die eienaar het afgewyk van die sloopertifikaat omdat geen toestemming verleen is om die bestaande gebou te sloop nie. Daar is wel toestemming verleen vir klein interne veranderinge. Noodsaaklike prosesse sal gevolg word omdat die eienaar nie aan die voorwaardes van die Erfenisraad óf die Munisipaliteit voldoen het nie.
“Die voorwaardes van goedkeuring het verder aangedui dat as ‘n persoon wie se regte geraak word deur ‘n besluit van die Tribunaal, skriftelik by die Munisipale Bestuurder binne 21 dae na die kennisgewing van die besluit, soos beoog in terme van Artikel 51(1) van die Ruimtelike Beplanning en Grondgebruiksbestuurswet, ‘n beswaar kan aanteken. Die 21 dae het verloop, vandaar die Afwykingkennisgewing waarin die eienaar beveel sal word om die konstruksie te staak en binne 21 dae na die kennisgewing ‘n nuwe aansoek in te dien. Die eienaar sal ook verplig wees om met die Erfenisraad (BOSWA) oorleg te pleeg oor ‘n nuwe aansoek en hul aanbeveling aan die munisipaliteit voor te lê.”
Ratha Timothy, bestuurder van die erfenisraad, het gesê die aansoek was nie gerig op sloop nie en ‘n vergadering sal met die eienaar gehou word.



