Beplande studentebehuising in erfenisgebied van Kimberley gestop

Deel hierdie storie / Share this story

Huiseienaars van Milnerstraat in Belgravia het teëgestop teen beplande studentebehuising oorkant die trimpark in Milnerstraat.

Dié area, wat deel vorm van die erfenisarea van Kimberley, wat alle huise ouer as 60 jaar insluit, word deurlopend deur eienaars van huise beskerm en spesiale toestemming moet verkry word om enige veranderinge aan dié historiese huise te maak.

Bouery by Milnerstraat 54 het huiseienaars se aandag getrek en ‘n advertensie wat studentebehuising adverteer, het verder die gemoedere laat vlamvat.

“Hierdie is ‘n erfenisgebied en ‘n residensiële area. Ons kinders ry nog in die strate met hulle fietse en almal wat hier woon, voel baie sterk oor die bewaring van die erfenis van Kimberley,” het een inwoner gesê.

’n Ander inwoner sê sy het ’n jaar lank gewag om toestemming by die erfenisraad te kry om ’n verandering in haar stegie te maak.

Nog ‘n huiseienaar sê sy is nie teen die uitbreiding van Kimberley en die restourasie van die meestal Victoriaanse huise nie, maar dat dit residensiële eiendomme moet bly. “As ons nou geboue en studentebehuising hier gaan opsit, gaan die hele area verlore gaan.”

Ratha Timothy, bestuurder van Ngwao Boswa Kapa Bokoni (erfenisraad in Kimberley), sê geen permit om te bou of te hersoneer as studentebehuising is vir Milnerstraat 54 uitgereik nie. “Ons het Vrydag uitgegaan na die erf en die ontwikkeling stopgesit. Ons volg hierdie op met die Sol Plaatje-munisipaliteit.”

Gideon Mothibi, wie se nommer op die advertensie vir die behuising aangedui word, het aan FiND iT bevestig dat die bouery vir eers gestop is. Hy het gesê hy kan nie nou al sê wat gaan gebeur met die eiendom nie.

Die inwoners is dit eens: dié gebied sal beskerm word soos voorgeskryf deur die Nasionale Erfenishulpbronnewet, Wet 25 van 1999, uiteengesit in artikel 34 van die Nasionale Erfenishulpbronnewet. Dié wet bepaal dat enige struktuur of deel van ’n struktuur wat ouer as 60 jaar is, beskerm moet word. Geen persoon mag so ’n struktuur verander of afbreek sonder om ’n permit te verkry wat deur die toepaslike provinsiale erfenishulpbronne owerheid uitgereik is nie.

Die doel van dié wet is om die behoefte aan ontwikkeling te balanseer met die bewaring van Suid-Afrika se kulturele en historiese erfenis. Eienaars van eiendomme word aangemoedig om saam te werk met die toepaslike owerhede om maniere te vind om erfenisstrukture te bewaar en herstel terwyl hulle aan moderne vereistes voldoen.