Ma en seun vir onder meer ‘mensehandel’ vasgetrek

Deel hierdie storie / Share this story

GAUTENG. – Dumazile Nkosi (51) en Thandoluhle Nkosi (25), ma en seun, het Maandag vir beweerde mensehandel, die hou van ‘n veiligheidshuis, hulpverlening aan verbode immigrante met die doel om die wet te vermy, sowel as die onwettige besit van ammunisie in die Springs-landdroshof verskyn.

Kol. Katlego Mogale, woordvoerder vir die Valke, sê die twee beskuldigdes is gedagvaar om in die hof te verskyn in ‘n voortdurende saak van mensehandel wat ondersoek word.

Die twee beskuldigdes het na bewering verblyf gegee aan en persele verhuur aan buitelandse burgers.

Mogale sê gedurende Februarie 2022 het hulle glo altesaam 47 buitelandse burgers “gehou” en nie mensehandel-aktiwiteite aan owerhede rapporteer nie.

Dawit Adamu (31), ‘n beskuldigde in die saak, is tydens die bywoning van ‘n hofsaak van Solomon Adamu, sy broer, wat hy wou ondersteun, geïdentifiseer en op 5 Oktober met ‘n lasbrief in hegtenis geneem. Hy het dieselfde dag in die hof verskyn en borg gekry.

Adamu sal weer op 3 November saam met ander beskuldigdes in die hof verskyn.

Die twee Nkosi-beskuldigdes bly in aanhouding en sal weer op 18 Oktober in die hof verskyn om vir borg aansoek te doen.

Maj.genl. Ebrahim Kadwa, die hoof van die valke in Gauteng, het versoek die publiek moet op die uitkyk wees vir tekens van persone wat moontlike slagoffers van mensehandel kan wees, naamlik swak lewensomstandighede, ‘n klomp mense in ‘n beperkte ruimte, die onvermoë om alleen te kommunikeer, ‘n geoefende antwoord en identiteitsdokumente of reisdokumente wat deur ‘n werkgewer teruggehou word. Tekens van fisiese mishandeling, onderdanigheid of vrees kan ook voorkom. Sulke persone ontvang dikwels nie ‘n salraris nie of word baie min vir werk betaal.

Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel