LIMPOPO. – Drie verdagtes is Dinsdag omstreeks 20:00 op ‘n plaas in Mussina vir beweerde roof in hegtenis geneem. Hulle het aanvanklik glo met items van meer as R100 000 weggekom.
Kol. Malesela Ledwaba sê twee plaaswerkers is glo deur gewapende verdagtes in hulle huis nie ver van die hoofhuis nie, met vuurwapens oorval en na die hoofhuis gedwing. Die boer was nie ten tyde van die voorval tuis nie.
Die verdagtes het glo die huis geplunder. ‘n Vuurwapenkluis is met ‘n slypmasjien oopgesny en onder meer twee windbukse, ‘n haelgeweer, matrasse, klere, ‘n sak, komberse en selfone is gebuit.
Die gesteelde items is daarna glo in die boer se Mahindra-bakkie met ‘n sleepwa gelaai. Met dié dat die verdagtes wou vlug, het die boer met ‘n ander voertuig opgedaag en hulle na bewering gekonfronteer. ‘n Skietery het uitgebreek waartydens die verdagtes glo die boer se voertuig gestamp, hulle uitgespring en te voet gevlug het.
Die polisie is ontbied en ‘n soektog is na die verdagtes geloods.
Ledwaba sê die drie verdagtes wat intussen in hegtenis geneem is, sal na verwagting binnekort in die hof verskyn. Drie wapens is teruggevind.
Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel



