GRIEKELAND. – ‘n Trop skape het in hulle soeke na weiding by ‘n kweekhuis naby die dorp Almyros ingekom waar hulle aan 100 kg dagga gesmul het.
Die dagga, wat vir medisinale gebruik in die kweekhuis aangeplant was, was volgens die eienaar reeds deur die hittegolf en Storm Daniël beskadig. Die eienaar het vir ‘n nuusagentskap gesê hy weet nie of hy moet lag of huil nie. Hy het gesê hulle het baie in die hittegolf verloor en toe kom die vloede waarmee hulle amper alles verloor het, net om heeltemal alles deur die skape se toedoen te verloor.
‘n Skaapwagter het die skape se vreemde gedrag opgemerk, maar nie geweet waaraan dit toe te skryf is nie. Die skape het eers in die oorstroomde vlaktes van Thessalië na kos gesoek, waarna hulle na Almyros beweeg het.
Sedert die 1930’s loop Griekeland erg in die somer onder die elemente deur. Landbougrond is vernietig, wat dit moeilik maak vir diere om weiding te vind. Terwyl Storm Daniël vir drie dae gewoed het, is stede en woonbuurte deurdrenk. Meer as 100 000 diere en vee is dood terwyl gewasse weggespoel en landbouproduksie erg geraak is.
Honderde inwoners moes per helikopter of reddingsbote uit gebiede gered word terwyl 17 persone dood is.
Kyriakos Mitsotakis, die Griekse eerste minister, sê die land word deur uitdagings in die gesig gestaar as gevolg van klimaatsverandering. Die regering wil meer verligtingsmaatreëls instel vir diegene wat deur natuurrampe geraak word.
Bronne: Sky News, The Daily Mail, en The Greek Reporter
Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel



