LEBOMBO. – Sewe familielede, onder andere ‘n bejaarde vrou, twee tienerseuns, twee tienermeisies en twee kleuters, is Dinsdagaand tydens ‘n ontvoeringsdrama naby die Lebombo-grenspos in Mpumalanga, gered. Drie voertuie wat vermoedelik bedoel was om na Mosambiek gesmokkel te word, is ook teruggevind.
Brig. Selvy Mohlala sê die bejaarde vrou wou glo die kinders omstreeks 20:00 na hulle grootouers se woning in KaMaqhekezaon neem. Na bewering het vier verdagtes nog voordat hulle kon vertrek almal in die familievoertuig, ‘n Toyota Fortuner, ingedwing. Daar is met hulle in die voertuig rondgery voordat hulle in bosse by die grenslyn ingery het waar die verdagtes vermoedelik die opsporingstoestel van die voertuig ontkoppel het.
Die vrou se eggenoot het bekommerd geraak toe sy nie huis toe kom nie en het die polisie ontbied. Die polisie het ook die weermag in kennis gestel.
Met samewerking tussen die polisie en weermag is die slagoffers in die bosse gered. Die voertuig is gisteroggend vroeg gevind waar dit naby die grenslyn gelaat is, maar die vermeende verdagtes kon ontsnap.
Tydens die redding van die familielede en opsporing van hulle voertuig is nog twee voertuie by die grenslyn ontdek. Een was ‘n Toyota Hilux-dubbelkajuitbakkie wat in KaMhlushwa gesteel is en ‘n Toyota GD-dubbelkajuitbakkie wat in Garsfontein in Gauteng gesteel is.
Enigiemand wat inligting van die misdade het om die polisie in die ondersoek te help, word versoek om na vore te kom.
Bron: SAPD
Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel



